DIE Bet-El Christelike Akademie (BECA) spog met hul nuutste portefeulje, Groenhande, wat daarop gemik is om ’n positiewe verskil tussen mens en die omgewing te maak.
Die skool het drie maande gelede ’n aktiewe herwinningsprogram begin en het sederdien 71 sakke rommel in Riverstonestraat opgetel.
Hulle het ook onlangs hulp verleen aan Save-a-Pet deur met die honde te gaan stap en die diere se hokke voor te berei.
Samantha Jackson, ’n leerder van BECA, het gesê dat dit vir haar skokkend was om te sien hoeveel liefdevolle honde en katte daar was wat huise benodig.
Mede-leerder Cayla Claasen het gesê, “Ek kon nie glo hoeveel diere daar was nie, oor die 200 honde. Honde wat deur eienaars agtergelaat is, en honde wat beseer was.”
Ten spyte van al die diere waarna Save-a-Pet moet kyk en beperkte finansies, is al die diere gesond en in ’n goeie toestand.
“Dit het ons harte gebreek dat daar slegs 15 minute per week met ’n hond gestap kan word vanweë die tekort aan vrywillige werkers by Save-a-Pet.
“Ons sal beslis weer moet gaan help,” het Claasen bygevoeg.




