Die fotovoltaïese (son-energie) stelsel wat aan die Hoërskool Cillié geskenk is. foto:VERSKAF


’n SON-energiestelsel is aan die Hoërskool Cillié geskenk om hul kragverbruik te subsidieer.

Die klas van 1969 het vanjaar hulle 50-jaar reünie in Port Elizabeth gevier, en die stelsel aan die skool oorhandig as deel van hul reünie-vierings en om hul dank teenoor die skool te betuig.

Volgens Gerrie Gerber, ’n oud-leerder, staan die stelsel bekend as ’n PV Stelsel (Photovoltaic in Engels).

Die stelsel wek elektrisiteit op deur van die son se energie gebruik te maak. Gedurende die dag wanneer die son skyn, word ’n direkte elektriese stroom (DC), intern deur die sonpanele op die dak opgewek. Daarna skakel die omsetter hierdie DC stroom om, om aanvaarbare eienskappe vir die munisipale netwerk te hê.

In die skool se geval is dit 3-fase elektrisiteit.

“Gedurende die dag, terwyl daar skoolaktiwiteite aan die gang is en daar ’n groter aanvraag na krag is, word al die son-opgwekte krag in die skool self verbruik.

“Wanneer die vraag na krag baie laag is, byvoorbeeld oor naweke of gedurende vakansies, sal die surplus krag na die munisipale netwerk teruggevoer word.

“Sodoende sal die skool dan krediete verdien, via die munisipaliteit se twee-rigting meter wat stroom in albei rigtings meet. Met ander woorde, die meter ‘hou boek’ van die skool se verbruik, asook sy terugvoerstroom wat aan die netwerk ‘terug-verkoop’ word,” het Gerber verduidelik.

Die skool se maandelikse elektrisiteitsrekening sal beduidend verminder word. Die grootte van die PV stelsel is 5 KW en dit sal sowat 13% van kragbehoefte dek vir die volgende 25 tot 30 jaar.

“In terme van randwaarde is die maandelikse besparing sowat R1 200,” het Gerber bygevoeg.

Die finansiering van die projek word deur skenkings van die klas van 1969 gedek. Die groep hoop egter dat ander matrieklasse hulle voorbeeld gaan volg deur by die projek in te skakel, om die skool moontlik selfvoorsienend met betrekking tot elektriese kragverbruik te maak.

“Hierdie omgewingsvriendelike stelsel wat oudleerlinge skenk, kan dan ook terselfdertyd leerders opvoed om te dink aan die toekoms en daarin te belê. Dit is ook moontlik ’n beginpunt om hernieubare energie deel van die skool se leerplan te maak,” het Gerber gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article