’n TWEELING van Bloemendal ploeg terug in hul gemeenskap deur twee maal per week seuns van die Hoërskool Bertram se hare gratis te sny.
Hoërskool Bertram-alumni, Jaydrian en Jaydon Vosloo, is deur hul oud-skoolonderwyser, Christian du Preez, uitgenooi ná hy self van hul dienste gebruik gemaak het.
“Juis omdat hulle oud-leerders is, het ek hulle gevra om die seuns by ons skool se hare te sny. Hulle het dadelik ingestem. As opvoeders leer ons leerders nie net hoe om te lees en skryf nie, maar ook die belangrikheid van waardes, etiek en beginsels. Aangesien ons voormalige leerders hierdie eienskappe toon, maak dit ons trots as onderwysers,” het du Preez gesê.
Jaydrian en Jaydon het in 2013 gematrikuleer en is tans mede-eienaars van Stylz Barbershop. Hulle het ook hul eie klere-handelsmerk, ‘Major’, bekendgestel.
Die tweeling glo dat as dit nie vir hul skool was nie, sou hulle nie sukses kon behaal nie.
“Ons het begin deur mekaar se hare te sny en het so ons passie gevind. Ons skool lê ons baie na aan die hart en met die bende-geweld in ons gebied, moet daar bietjie lig aan die einde van die tonnel wees. Om iets goeds te doen – al is dit so klein soos om leerders se hare te sny – maak ’n groot verskil in ons gemeenskap,” het Jaydrian gesê.
Die tweeling gee terug aan Bertram deur seuns se hare gratis te sny elke Dinsdag en Woensdag vanaf 09:00 tot 14:00.
Luidens Du Preez, verlig die gratis haarsnye die finansiële druk vir ouers in die gemeenskap.
“Daar is leerders by die skool wat dit wel kan bekostig om hul hare te laat sny, maar wat van die ander wat dit nie kan bekostig nie? Ons probeer om voorsiening te maak vir daardie leerders,” het Du Preez verduidelik.
Bertram is ’n staatskool waar ouers vrygestel is van die betaling van skoolgeld. Die skool is geleë in ’n gebied waar armoede en bendegeweld van die leerders se daaglikse uitdagings is.
Die skoolbeleid is dat leerders se hare kort en netjies moet wees. Leerders is in die verlede verbied om klasse by te woon ná talle klagtes oor haarstyle geïgnoreer is. Dié leerders het die skool se gedragskode oortree deur te weier om hul hare te sny.
“Ons het in die verlede leerders huis toe gestuur juis omdat hul haarstyle onnet was. Met Jaydrian en Jaydon wat nou gratis die seuns se hare sny, is dit nie meer nodig nie. Dit beteken so baie vir ons seuns. Ons het leerders wat tou staan, net om ’n gratis Stylz-snit te kry,” het Du Preez bygevoeg.
Met PE Express se besoek aan die skool, het Anwen Billet (14), ’n gratis haarsny ontvang. Hy meen dat dit sy ouers help om geld te spaar.
“Om deesdae na ’n haarkapper te gaan, kos baie geld. Jaydrian en Jaydon doen ons ’n groot guns en ons is baie dankbaar daarvoor,” het Billet gesê.





