Marius Germishuys, skoolhoof van die Hoërskool Framesby. Foto:KAILIN DANIELS


“MET 25 jaar in die onderwysveld, is dit ’n goeie tyd vir ’n verandering. Ek is in die politiek van kinders en hul toekoms lê my baie na aan die hart.”

Dit is die woorde van Marius Germishuys, die Hoërskool Framesby se nuwe skoolhoof wat met groot afwagting verlede maand by die skool begin het.

Germishuys, voorheen adjunkhoof by die Hoërskool Ben Viljoen in Groblersdal, is aangestel ná die aftrede van die voormalige skoolhoof, Jan Stroebel.

Oor die afgelope 25 jaar het Germishuys in verskeie rolle by verskillende skole opgetree. Hy het in 1994 by die Hoërskool De Vos Malan as onderwyser begin en is daar bevorder tot departementshoof en adjunkhoof.

Germishuys, oorspronklik van Graafwater in die Wes-Kaap, het sy onderwyspad deur Springbok en Kathu tot by Ben Viljoen geloop.

“Ek is baie opgewonde oor hierdie nuwe hoofstuk in my onderwysloopbaan. As nuwe skoolhoof is dit belangrik om op dissipline te fokus. Ek is baie gemaklik met kinders, maar ek glo dat dissipline toegepas moet word. Ons skenk ook baie aandag aan ons akademie en sport en glo dat ons na die boonste vlak gaan styg. Ek het ook onlangs ’n gesprek met ons wiskunde-onderwysers gehad en ons skool gaan teen 2020 die beste Wiskunde-skool in Suid-Afrika wees,” het Germishuys gesê.

Germishuys het by die Hoërskool Graafwater sy skoolloopbaan voltooi en later sy graad in onderwys aan die Universiteit van Stellenbosch en die destydse Kaapse Technikon behaal.

Hy was ook ’n onderwyser by die Hoërskool Namakwaland in Springbok vir vyf jaar.

“By Framesby is ek in my eerste skoolhoof-pos en ek sien uit na hierdie hoofstuk.”

Germishuys is met Annel getroud en het een dogter, Marné. Hy is ’n gesinsmens en bring graag soveel tyd as moontlik met sy familie deur.

“Ek glo dat die omgewing waarin leerders opgevoed word ’n kardinale rol speel in hul ontwikkeling en dat hierdie omgewing dissipline, kennis en integriteit as hoekstene moet hê.”

Germishuys glo in sy leuse, “Go for gold – silver is nothing” en pas dit daagliks toe.

“Ek glo dat elkeen die beste weergawe van hulself kan wees en kan toon. Ek sien uit na hierdie nuwe hoofstuk en opwindende nuwe era in Framesby se geskiedenis en sal beslis elke oomblik koester.”

Nog ’n verandering by Framesby was die bevordering van een van die skool se onderwysers, Chris van Niekerk, tot adjunkhoof in Januarie.

“Ek glo onderwys is ’n roeping. Dit is ’n groot voorreg om betrokke te wees by die ontwikkeling van leerders. As onderwyser het ek elke dag die geleentheid om ’n verskil te maak, al is dit in net een leerder se lewe. Daarna streef ek om elke dag ’n rolmodel en vaderfiguur vir leerders te wees,” het Van Niekerk gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article