TALENTVOLLE jong uitvoerende kunstenaar Mé-Jean du Preez is tydens haar deelname aan die SA Championship Performing Arts in Rustenburg gekies om Suid-Afrika by die wêreldkampioenskappe in Los Angeles vanaf 7 tot 24 Julie te verteenwoordig.
“Ons is super trots op haar en sy is maar 10 jaar oud,” het haar ma, Mollie, gesê. “Sy is ’n talentvolle meisie wat werk vir wat sy wil bereik in die lewe.”
Mé-Jean, ’n gr. 5-leerder aan die Laerskool Newtonpark, is reeds sedert haar baba-dae in die kollig toe sy in 2008 PE Express se Voorblad-Kersbaba van die Metro-uitgawe was.
“Sy het gedans en konserte geniet van ’n baie jong ouderdom. Sy was in gr. R toe sy haar eerste toekening vir beste drama-student ontvang het,” het Mollie vertel.
Tydens die SA-kampioenskappe in Rustenburg het Mé-Jean aan dans, sing, modelwerk en drama deelgeneem.
“Ek was skoon moeg vir haar onthalwe, maar as sy hoor sy kan optree, kry sy nuwe energie,” het Mollie gesê.
Mé-Jean het ’n liefde vir die buitelewe en sy swem, vang vis en jag in haar vrye tyd. Sy is ook gereeld by liefdadigheid betrokke. “Sy sê altyd as sy ’n verskil in een persoon se lewe kan maak, dan voel sy tevrede in haar hartjie!”
Volgens Mollie is Mé-Jean se grootste inspirasie Anneke Bushby wat ’n lid is van dieselfde dansskool as waar Mé-Jean is.
“MJ sê altyd Anneke is haar ouer sussie. Anneke is altyd daar om moed in te praat wanneer dit soms moeilik gaan.”
Mé-Jean se reis na die VSA gaan hulle sowat R75 000 uit die sak jaag. Hulle is tans besig met ’n paar fondsinsamelingsprojekte.
Volgens Mollie verkoop Mé-Jean reeds koekies by die skool en lootjies. Hulle is ook tans besig met ’n fotogeniese kompetisie vir alle ouderdomme.
“Ons is super trots op ons go-getter. Ons wil net hê dat sy dit geniet en groei as mens; ’n goue medalje sal net ’n bonus wees,” het Mollie gesê.
Enige bydraes om Mé-Jean in die VSA te kry is welkom. Kontak molliedupreez@gmail.com vir meer inligting.




