Leerders en onderwysers van die Bet-El Christelike Akademie in Kabegapark. Foto:VERSKAF

DIT wat jare gelede as net ’n droom vir ’n privaat Christelike skool begin het, is vandag ’n spoggerige werklikheid.

Die Bet-El Christelike Akademie, ’n Afrikaanse Christelike private hoërskool in Kabegapark, het in 2015 sy eerste leerders verwelkom.

Hulle het begin met slegs een gr. 8-klas met 10 leerders. Vanjaar spog die skool met sy eerste matriekklas met 12 leerders en altesame 68 leerders in die skool.

Pierre Hauman, oudhoof van die Hoërskool D.F. Malherbe en voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse onderwysersunie (SAOU) in die Oos-Kaap, is die man aan die stuur van die skool, wat deur die Gemeentes van Christus-kerk in Kabegapark gebou is.

Luidens pastoor Eddie Prinsloo van die Gemeentes van Christus, kan die skool tans slegs 200 leerders akkommodeer en die klasse is vir net 20 leerders toegerus.

“Dit het begin by ’n droom, dat ek ’n skool moet begin by die kerk, ’n Christelike skool. En toe dink ek dis iets groot. Ek het eers gedink dis ’n kleuterskool, voorskool, kleinskool. En soos ons die pad gestap het, besef ek dit kan nie ’n kleuterskool wees nie. Dis met ’n hart vol blydskap dat ek dit gedoen het. En dit moet wees tot eer van die Here ook,” het pastoor Prinsloo gesê.

“Van waar ons begin het met net ’n gr. 8-klas, net ’n paar kinders, tot waar ons nou gekom het, kan ek werklik die hand van die Here daarin sien.”

Hy het met ’n skoolhoof gaan gesels oor die projek wat hom toe in Hauman se rigting gestuur het.

“Hy vertel my van Pierre Hauman wat reeds 17 jaar by DF Malherbe was, en sy hele agtergrond. Hy vertel vir my daardie man maak klaar by die skool en sy hartsbegeerte is na ’n Christelike privaat skool, maar dis die fondse en die plek wat hy nie het nie,” het pastoor Prinsloo vertel.

“Ons het al die stappe deurgegaan, en met die hersonering sê hulle ek moet omgaan en by al die mense gaan toestemming vra om ’n skool te bou. Om ’n lang storie kort te maak, kom die argitek toe by my en sê die plek is reeds geregistreer sonder dat ons dit geweet het. Toe is dit nie eers nodig vir die hersonering nie. Die Here het reg aan die begin al alles in plek gehad.”

Hulle het bly groei van die paar leerders wat hulle in daardie eerste jaar gehad het tot waar hulle verlede jaar mense ongelukkig moes wegwys vir graad 8.

“Toe is die klas vol. Ons het net 18 in die klas en dit lyk of ons volgende jaar twee klassies gaan hê,” het Prinsloo gesê.

“Wat die skool uniek maak, is die persoonlike aandag wat die kinders in die klas kry. Dit trek die mense hierna. Dis ’n privaat skool wat bekostigbaar is. En kinders kry individuele aandag.

“Dit het nadele sowel as voordele vir die kind. As hulle sukkel, gaan hulle aandag kry, en as hulle stout is, gaan hulle ook aandag kry,” het hy geskerts.

“In die begin het dit net gelyk na iets onmoontlik, maar omdat die Here in die saak was, staan ons vandag hier.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article