Nellie Strydom saam met haar dogter Magda Carpenter. foto:ANIKA DE BEER


SY dra nie bril nie, sy hou die geheue al van jongdae af skerp met blokkiesraaisels en haar hande is altyd besig.

Dít moet Nellie Strydom se geheim vir ’n goeie en gesonde lewe wees. Dié oumagrootjie het gister op 30 Julie haar 101ste verjaardag ge- vier.

Sy het die afgelope Sondag saam met ’n paar familielede, sommige van Steytlerville en ander van sover as Pretoria, die spesiale dag gevier.

Nellie het ’n paar jaar gelede, net ná haar 99ste verjaardag, by haar dogter Magda Carpenter in Somerstrand gaan woon.

Maar moenie dat haar ouderdom jou flous nie. So tussendeur die breiery van kombersies en luister van musiek, hou sy graag haar oog op die sportkanale, veral wanneer die krieketmanne die veld betree. Haar gunsteling Suid-Afrikaanse speler is Quinton de Kock.

Luidens Magda leef haar ma nog al die jare baie gesond.

“Ek onthou toe ons klein was, toe ons in Floridapark (Johannesburg) gewoon het, was daar baie vrugtebome in ons tuin en sy het baie dae haar middagete van die bome gaan pluk,” het sy vertel.

Nellie het ook graag gesing en was lid van die Floridapark-dameskoor tot op 80-jarige ouderdom.

Sy het ná 61 jaar se getroude lewe sowat 16 jaar gelede haar man aan die dood afgestaan, en vyf jaar gelede haar ander dogter.

Tannie Nellie het nou haar dogter Magda, vyf kleinkinders en altesaam nege agterkleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article