DIE wêreld-première van die toneelstuk Esselenstraat, ’n vertaling van die gewilde teaterstuk London Road geskryf deur Nicholas Spagnoletti en vertaal deur Robert Lourens, sal in Die Barn Teater by die PE Operahuis vanaf 30 Oktober tot 2 November opgevoer word.
Die humoristiese storie speel af in ’n blok woonstelle in Esselenstraat (Robert Sobukwe-straat), Sunnyside, Pretoria (Tswane), tussen vervalle geboue en gesogte kantoorblokke.
Stella, ’n Nigeriese vrou in haar dertigs, bly in die ou opsigter se woonstel. Dit is klein, beknop en in ’n baie slegte toestand.
Sarie is ’n Afrikaner-vrou in haar tagtigs en bly in dieselfde blok, maar haar woonstel is meer luuks met ’n balkon en ’n uitsig. Dit is ’n persoonlike blik in die lewe van die twee vroue en hul onwaarskynlike vriendskap.
Die regie van Esselenstraat word behartig deur Robert Lourens. Anna Pauw speel Sarie en Jocelyn Scholtz speel Stella.
Vanaf 30 Oktober tot 1 November begin die toneelstuk om 19:00 en op 2 November begin dit om 14:00 en 19:00. Toegang is R100 per persoon en R150 vir dubbel. Studente en pensioenarisse betaal R50. Kaartjies is verkrygbaar by Robert op 083 697 1800.




