DIE Port Elizabeth-gebaseerde gemeenskapskoor, Cantando@Algoa, se 10de aanbieding van die gewilde Lofsange-program vind op 27 Oktober om 15:00 in die NG Kerk Kraggakamma in Sunridgepark plaas.

Hierdie geleentheid is die koor se laaste aanbieding van dié program vir 2019, maar terselfdertyd ook die heel eerste aanbieding van ’n musiekprogram in die kerkgebou van NG Kerk Kraggakamma nadat die binneruimte onlangs omvattend struktureel verander en opgegradeer is.

Koor– en gehoorsamesang word aangevul deur orrelspel, solosang, trompetspel en ’n mansmassa-koor.

Die samesteller en koördineerder van die Lofsange-programme vanaf die eerste aanbieding daarvan is Logy Murray.

Deelnemende kore is die plaaslike Cantando@Algoa, die Jubel-koor van Jeffreysbaai onder leiding van Annatjie Smit, en die Despatch Mannekoor onder leiding van Tanya Gerber. Die drie kore tree ook in vier items tydens die program gesamentlik as ’n massakoor op.

Begeleiding op die manjifieke meganiese pyporrel word deur orreliste Benji de Lange, Hanlie Young, Marilise van Rooyen en Bouwer van Rooyen gedoen.

Orrelvoorspel tot die program begin reeds om 14:40. Die trompetsolis is Curtleigh Koopman en verskeie sangsoliste sal tydens die program optree.

Cantando@Algoa was vroeër vanjaar die gaskoor by die jaarlikse aanbieding van die Passiespel in Lady Grey. Die koor berei tans voor vir ’n toer in 2020 waar hulle in Val Pusteria, Italië aan die 23ste internasionale koorfees gaan deelneem en ook in Oostenryk en Duitsland gaan optree. Die toer-koor is ’n uniek-saamgestelde koor bestaande uit lede van Cantando@Algoa, Cantando@Bloem (Bloemfontein) en Cantando@Delta (Vereeniging) en word gedirigeer deur Bouwer van Rooyen, stigter van al drie die kore.

Toegang op 27 Oktober is gratis. Slegs ’n kollekte word opgeneem om koste te delg. Navrae kan gerig word deur 082 200 9415 te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article