Wyksraadslid Helga van Staaden wys die skade weens vandalisme by die Chatty-biblioteek. Foto’s:VERSKAF


BOEKE is geskeur, rekenaars en ’n fotostaatmasjien is met ’n graaf getakel en daar het menslike ontlasting rondgelê nadat daar Sondag by die Chatty-biblioteek in Port Elizabeth ingebreek is.

Meer as R200 000 se skade is na raming aangerig toe vandale vermoedelik deur die dak toegang tot die biblioteek verkry en houtgerus eers ’n koppie koffie geniet het voordat hulle spore gemaak het.

Van die kantore se vensters is stukkend geslaan en stoele en dokumente is rondgegooi. Werkers van die biblioteek het op die skade afgekom toe hulle dit gaan oopsluit het.

Weens die skade wat aangerig is, is talle kinders in wyk 35 en omstreke se beplande vakansieprogram nou daarmee heen.

Inwoners kan ook nie van die dienste wat die biblioteek lewer, gebruik maak nie.

Helga van Staaden, DA-wyksraadslid, het Maandag gesê dit is hartverskeurend dat so-veel skade aangerig is deur vandale wat niks gesteel het nie.

Van Staaden en haar kollega, Margaret de Andrade, het die biblioteek op 12 November besoek juis om die kwessie van veiligheid te bespreek.

“Dit is hartseer om te dink dat sekere mense in die gemeenskap ’n plek kan vernietig waarby almal baat vind.

“Die rekenaars en die fotostaatmasjien is stukkend. Inwoners sal nie nou kan afdrukke maak nie en dit is juis ’n diens wat vir die munisipaliteit geld inbring.

“Baie inwoners besoek die biblioteek daag-liks om die koerante te lees.

“Dit gaan die verstand te bowe,” sê sy.

Van Staaden is voornemens om werkers te stuur om op te ruim sodra die polisie vingerafdrukke geneem en hul ondersoek afgehandel het.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n saak van inbraak (sakeroof) is Sondag by die polisie aanhangig gemaak. Niemand is nog in verband met die voorval aangekeer nie.

Daar is nie veiligheidsbeamptes by die biblioteke in die Nelson Mandelabaai-munisipale gebied nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article