MELVIN Humpel (63), destydse ondersoekbeampte in die verkragting- en poging-tot-moordsaak van Alison Botha, is Sondag oorlede.
Humpel, wat einde Februarie sy 64ste verjaarsdag sou vier, is aan ’n hartaanval dood.
Netwerk24 berig Humpel was tuis en besig om met iemand te gesels toe hy meteens inmekaargesak en dood is.
Humpel het in Port Elizabeth ’n reputasie gehad as ’n bobaas-speurder wat nie bang was om misdadigers vas te vat nie.
Alison is op 18 Desember 1994 in Port Elizabeth deur Frans du Toit en Theuns Kruger ontvoer.
Albei het haar verkrag, haar keel 17 keer oopgekloof, en haar meer as 30 keer met skerp voorwerpe in haar maag en buik ge-steek. Sy is vir dood agter gelaat, maar het wonderbaarlik oorleef.
Alison het Sondag by wyse van ’n emosionele inskrywing op haar Facebook-blad gesê: “Vandag het die Hemele een van hul Engele te-ruggekry en ons het ons s’n verloor.”
Alison sê verder haar hart is stukkend en dat almal hom baie liefhet. Sy kon Sondagaand nie bereik word vir verdere kommentaar nie.
Terry Price, ’n bekende advo- kaat in Port Elizabeth wat 40 jaar lank met Humpel bevriend was, sê sy dood is ’n groot skok.
Price sê hy en Humpel het me-kaar in gr. 9 leer ken toe hulle saam op skool was.
Die vriende was ook saam in die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Price beskryf Humpel as een van die beste polisiebeamptes wat daar nog ooit was, met ’n werke-tiek en passie waaroor min polisie-beamptes deesdae beskik.
“Fisiek was hy baie groot en sterk, maar met die sagste hart. Hy het niks en niemand gevrees nie, net sy God.
“Melvin Humpel het nie eens sy vuurwapen gedra nie. Hy kon selfs in die destydse onluste in die township stap sonder vrees.”
Price onthou hoe Humpel “elke liewe dingetjie” in sy sakboek aangeteken het. “Daar is selfs ook inskrywings in sy sakboeke van kere wat hy stout was.”
Volgens Price het regters vir Humpel gerespekteer.
“Selfs die mees gesoute prokureur kon hom nie in die getuie-bank skud nie, want hy was deeg-lik en het altyd die waarheid gepraat,” se Price.
Adv. Hannelie Bakker, destydse staatsaanklaer in die Alison-saak, sê sy het Humpel verlede Vrydag nog gesien.
Hy was opgewek en het haar ’n stywe drukkie gegee toe hulle mekaar groet.
Bakker sê min mense weet hoe briljant Humpel houtwerk gedoen het.
Hy het al die meubels in Bakker se slaapkamer en die lessenaar vanwaar sy haar konsultasies doen spesiaal gemaak.
Bakker was juis Vrydag by Humpel om ’n lessenaar te gaan oplaai.
“Toe ek vir hom vra waar is die faktuur, het hy net gesê ‘Nee Hannelie, dit is jou present, ek wil dit vir jou gee.’
“’n Baie groot engel met baie groot en wye vlerke is nou weg-geneem.”
Oor Humpel se rol in die Alison-saak sê Bakker hy was fantasties. “Hy het Alison baie mooi hanteer.”
Sy sê wat haar gedurende die verhoor opgeval het, was dat Humpel nooit die beskuldigdes geboei het nie en hulle het altyd voor hom uitgestap.
“Dit is ’n bewys van die tipe respek wat Humpel op mense afgewing het.
“Hy was ’n reus met die sagste hart en ’n groot gees. Hy het so-veel dinge vir soveel mense gedoen wat jy nooit sal kan begryp nie.”
Humpel was die voorsitter en ambassadeur van die Cheshire Homes Summerstrand-tehuis.
Hy laat sy vrou Mercia, drie kinders en twee kleinkinders agter.
- Sy begrafnis word Saterdag-oggend om 10:00 vanuit die St. Mark’s-kerk gehou.





