VERSKEIE ATKV-takke het hulle moue opgerol en gedurende die Covid-19 pandemie ingespring om mense in nood by te staan.
Een van die groot behoeftes wat takke geïdentifiseer het, is dat baie mense honger gaan slaap.
Petra le Roux, voorsitter van die ATKV-tak Oudtshoorn, het gesê sy is baie bekommerd oor die mense van Oudtshoorn en hoe hulle sonder ’n inkomste gaan oorleef. Daarom het dié tak besluit om noodsaaklike goedere, soos kos en seep, in te samel vir behoeftiges.
“Hier is ’n groot nood. Hier is baie mense wat op maatskaplike toelaes aangewese is en hulle inkomste met stukwerk aanvul, maar nou is daardie werk skielik nie meer daar nie,” het sy gesê.
Die tak het, in samewerking met die plaaslike munisipaliteit, ongeveer R12 000 se kos-skenkings en elektrisiteit aangekoop.
Anette Becker, voorsitter van die ATKV-tak Sonneblom, in Despatch, het gesê, “Die nood is baie groot. Daar is huisgesinne waar nie een ouer in hierdie stadium kan werk nie. Ons kan nie die wêreld verander nie, maar wel een persoon se wêreld vir een dag verander.”
Verder voorsien die ATKV-tak Edik, in Gerald Smith, Uitenhage, op ’n daaglikse basis kos, terwyl die ATKV-tak, Langsous, in Mosselbaai, gesinne met kruideniersware help. ATKV-jeugtak, Staan Rotsvas, in Jeffreysbaai, deel ook kos uit.
Volgens Rolien Smit van die ATKV-tak Hartenbos trek hulle mense net so swaar. “Ons reik uit na mense wat nie kans sien om in die lang rye te gaan staan nie en gaan doen hul inkopies. Een van ons lede het selfs namens oumensies in die ry gaan staan om Sassa-geld te trek.
“Een van ons lede, ’n dominee, het ’n spens “oopgemaak”, donasies ontvang en baie goeie reaksie gekry. Deur sy inisiatief is geweldig baie mense van kos voorsien.”
Benewens kos, is daar ’n groot tekort aan maskers. Die ATKV-takke Peaat, Port Elizabeth, Uitenhage en Hartenbos het materiaal-maskers gemaak en versprei.
Trudie Swanepoel van die ATKV-tak Despatch deel elke Dinsdag aan 10 gesinne kospakkies met sop en brood uit. Elke kospakkie bevat ook ’n masker.
Die ATKV-tak Uitenhage het besluit die inperking gaan hulle nie verhoed om mekaar beter te leer ken nie. Volgens takvoorsitter, Kallie Calitz, het hulle begin om hul lewensgeskiedenis met mekaar te deel.
“Die tak het egter ook na buite uitgereik. Ons het op Moedersdag die ou mense by ’n plaaslike ouetehuis met eetgoed bederf en maak reeds planne om op 31 Mei weer na ons gemeenskap uit te reik.”
Terwyl slegte nuus aan die orde van die dag is en dit maklik is om moedeloos te raak, het die ATKV-jeugtak Sweepslag van die Hoërskool Framesby besluit om gemoedere te lig en grappies aan te stuur.
ATKV-jeugtak Patatters, in Port Elizabeth, het inisiatief aan die dag gelê en met ’n projek begin om dankie te sê aan onderwysers wat gedurende hierdie tyd ekstra moeite doen en met soveel sorg seker maak dat leerders deurlopend ondersteuning kry met hul skoolwerk.
Lede van dié jeugtak gaan onderwysers van die Hoërskool DF Malherbe bederf met ’n koffie-geskenkbewyse by Seattle Coffee Co.
Elda Kruger, streeksbestuurder van die ATKV, sê dat om ’n verskil te maak, binne elkeen se vermoë is.
“Indien jy nie self iets kan skenk nie, ken jy dalk iemand wat kan. Skakel die ATKV-tak op jou dorp en vind uit hoe jy betrokke kan raak om ’n verskil te maak.”
Kontak Elda Kruger by 079 996 5299 om meer uit te vind oor ’n ATKV-tak naby jou.





