“Is dit die erfenis wat ons as Suid-Afrikaners wil nalaat vir ons kinders en mense?”
Met vandag as die laaste dag van Erfenismaand, is dit die vraag wat Marie Stumke (82) aan elke Port Elizabeth-inwoner stel.
Stumke, ’n inwoner van die Sherwood Rus-aftreeoord, het sowat twee maande gelede ’n besluit geneem om die gebied in en om haar omgewing skoon te maak.
“Iemand het op die radio gepraat oor die plek wat so vuil en onnet is. Dit het my laat besluit om iets omtrent dit te doen,” het sy gesê.
Sy het die taak kort ná hulle weer volgens die reëls en regulasies van inperking mag rondbeweeg het, aangepak. Alleen, met sak in die hand, het sy in Sondagstraat begin. Sy het onder meer drankbottels, weg-neemetes se verpakkings en oneindig baie Bioplus-sakkies opgetel.
“Ek was een dag sowat ses ure besig en ek het ten minste tien swartsakke tjok-en-blok vol rommel opgetel. Toe kom hou ’n man stil met sy bakkie en hy ry die sakke vir my weg,” het sy vertel.
Stumke sê sy en ’n vriendin loop al jare die gebied plat en om dit só te sien maak haar ongelooflik hartseer.
“Hier was net bome waar Baywest is en dit was mooi,” het sy gesê. Hulle het foto’s geneem toe die eerste klip weggerol is in die veld waar Baywest vandag staan.
Die plekke wat sy skoonmaak, bly ook nie skoon nie.
“Dit was ’n tawwe job om hierdie plek skoon te kry en net ’n paar dae nadat ek hier was, tel ek weer drankbottels op.
“As jy hier inkom, dan lyk dit soos ’n varkhok. Jy skaam jou eintlik daarvoor,” het Stumke bygevoeg. Sy het ’n beroep op inwoners gedoen om hul omgewing op te pas en weer trots te hê in PE en Suid-Afrika se erfenis.




