Doppies, doppies en selfs nóg doppies…
Toe die onderwysers en leerders van die Laerskool Altona hul nuutste projek aangepak het, het hulle geen idee gehad dat dit in iets só groot – en kleurvol – sou ontaard nie.
Riana Breytenbach, ’n onderwyseres by die skool en die projek se dryfkrag, het oorspronklik ’n kleiner weergawe in gedagte gehad voordat adjunkhoof Reon Swanepoel ’n stokkie daarvoor gesteek het.
“Ons het met waardes begin by die skool en toe het Meneer (Swanepoel) vir my gesê hy wil iets mooi doen met daardie muur,” het Breytenbach vertel.
Sy sê hulle moedig die leerders baie aan om ’n lig in die omgewing te wees. Saam met ’n stel waardes wat hulle as ’n skool saam leer, vorm dit die tema van die muur.
Die tien waardes is eerlikheid, respek, liefde, verantwoordelikheid, betroubaarheid, omgee, vertroue, burgerskap en integriteit.
“Ons het in die eerste kwartaal doppies ingesamel om een groot kunswerk teen die muur te bou. Die muur kyk op die speelgrond uit,” het Swanepoel gesê.
Hulle het op 7 Februarie die projek begin en doppies het by die honderde ingestroom. Toe kom die inperking.
Maar hulle was nie gereed om op te gee nie.
“Toe ons terugkom skool toe, moes ons die klasse skoonmaak en toe beland al die doppies in een vertrek en ons weet nie wat om met dit te doen nie,” het Breytenbach gesê.
Sy het saam met haar mede-onderwyseresse Desireé Bosman en Cindy Tout, asook haar dogter San-Mari Breytenbach, skouer aan die wiel gesit en die projek begin.
“In ’n stadium het ek regtig gedink ons gaan nie genoeg doppies hê nie. En nou het ons te veel. Ons het nog doppies oor,” het sy gesê.
Die projek bestaan uit meer as 30 000 doppies. So tussendeur die gewerk het hulle ook ’n paar aanpassings gemaak. Die oorspronklike idee het die ligtoring en waardes ingesluit. Toe voeg hulle die seelewe by om bewusmaking te skep oor die gevaar wat plastiek vir dié omgewing inhou.
Die diertjies het later bygekom toe hul doppies ietwat min geraak het, veral die blou en groen.
“Toe ons nou sien hoe mooi dit eintlik lyk, is ons half spyt dis nie aan die voorkant van die skool waar meer mense dit kan sien nie,” het Swanepoel gesê.
Dit het die klein span slegs vier weke geneem om die projek te voltooi.
“Ons was moeg, hoor. Die onderwysers wat ingekom het, gereed met ’n grappie of twee het ons die moed gegee om aan te gaan. Dit was regtig ’n spanpoging en die ondersteuning het baie beteken,” het Breytenbach gesê.
“Ek is baie trots op dit wat ons bereik het en dat hulle (die leerders) so baie doppies bymekaar gemaak het. Die wonderlikste vir my is die kinders se reaksie wanneer hulle daar verbystap; dit laat hulle in verwondering.”
Breytenbach het gesê dit was ’n lekker projek en sy sien kans om eendag weer só iets aan te pak, maar nie gou nie!




