Met die verval van die historiese ou Harbour Board-gebou in Flemingstraat in Sentraal wat nou in die nuus is, is die boek 200 Years: A Celebration of Port Elizabeth, ’n welkome aanwins vir enige persoon wat Port Elizabeth se geskiedenis op die hart dra.
Dié hardeband-koffietafelboek, wat bestaan uit 160 bladsye en met meer as 850 foto’s en beskrywende kopie, is deur Kin Bentley, ’n plaaslike oud-joernalis, saamgestel en deur Jenny Bennie, ’n historikus, geredigeer.
Bentley is in die Oos-Kaap welbe-kend in die koerantwese en het ook in Londen in Engeland in 1990 en 1991 vir die SA Morning Newspapers as korrespondent gewerk.
“As jong joernalis het ek Port Eli-zabeth goed leer ken, veral die omgewing om die stadsaal, waar ek in die 1980’s en 1990’s menige stadsraadsvergadering moes bywoon,” sê Bentley.
“Dit was ook in die 1990’s dat ek daarvan bewus geword het dat sommige van die ou geboue met ’n historiese waarde in die Baai erg verwaarloos word.
“Uit die vensters van die Herald se kantoorgebou, waar ek werksaam was en wat in daardie stadium in die hart van Port Elizabeth geleë was, kon ek sien hoe die dak van die Ou Poskantoor, wat na Govan Mbekilaan verskuif is, uitmekaarval.
“Langs die Donkin-natuurreservaat, in die historiese Donkin Terrace, wat van 1850 tot 1880 gebou is, het dwelmsmokkelaars en leeglêers hul intrek geneem. Dieselfde was aan die gebeur met die ou geboue agter die ry Donkin-huisies in Constitution Hill, terwyl die ou Tremloods se dak ook stadigaan besig was om inmekaar te tuimel.
“Van 2014 het ek begin om in die stad se ou dele rond te stap en foto’s te neem van geboue wat ek dink van historiese belang sou wees.
“Ek het dié foto’s op Facebook begin deel en al hoe meer mense het dieselfde gedoen.”
Die foto’s het handig te pas gekom toe hy verlede jaar besluit het om die 200-jarige herdenking van die 1820 Setlaars se aankoms, sowel as die benaming van Port Elizabeth deur die destydse waarnemende goewerneur van die Kaap van Goeie Hoop, sir Rufane Donkin, met ’n fotoboek te herdenk.
In samewerking met die GFI-kunsgalery in Port Elizabeth is 200 Years: A Celebration of Port Elizabeth teen die einde van verlede jaar saamge-stel.
“Ons was gelukkig om ook foto’s uit private versamelings daarvoor te kon gebruik,” sê Bentley.
“Margaret Harradine, wat onge-lukkig ook verlede jaar oorlede is, was vir dekades die Africana-bib- liotekaresse by die Hoofbiblioteek in die stad en ek het dikwels as joerna-lis met haar gekonsulteer wanneer ek inligting van historiese waarde benodig het.
“Dus het haar boek, Port Elizabeth: A Social Chronicle to the End of 1945 goed te pas gekom en kon ek die basiese inligting soos wanneer daar ’n noemenswaardige gebeurtenis plaasgevind het en wie daarby betrokke was, daaruit kry.
“Dean McCleland, ’n direkte afstammeling van eerw. Francis McCleland, die eerste Anglikaanse dominee wat in 1820 ’n heenkome in Port Elizabeth gevind het, se blog, Casual Observer, wat die gedeelte “Port Elizabeth of Yore” insluit, was ook van groot waarde.
“Die inhoud daarvan is soos ’n ensiklopedie van die stad en McCleland het van verskeie bronne gebruik gemaak om sy inligting te staaf, wat my navorsingstaak vergemaklik het.
Die vernietiging van Suideinde is een faset van die stad se geskiedenis wat veral vir Bently uitstaan.
“Toe ek in 1984 van Oos-Londen in die Baai kom woon het, was die ou Suideinde-woongebied reeds totaal vernietig,” sê hy.
“Daar was net twee moskees en sover ek onthou, een oorblywende kerk en ’n handvol ander geboue oor. Ek was bewus daarvan dat ’n groot kosmopolitiese gemeenskap gedwing is om die gebied in die laat 1960’s te verlaat, maar die skaal van die uitsettingsproses het eers tot my deurgedring toe ek verskeie foto’s, waaronder ook lugfoto’s, daarvan gesien het.
“So het dié deel van die geskiedenis bewaar gebly.”
Hoewel Bentley ná ’n indrukwekkende loopbaan as joernalis, nagredakteur en kunsskrywer in 2016 afgetree het, sit hy nie met gevoude arms nie.
“Verskeie tekeninge wat ek oor die afgelope jare geskets het, is in my outobiografie, After the Storm and Before the Rainbow, opgeneem wat in Desember 2019 gepubliseer is.”
Tussendeur is ook twee e-boeke uitgereik met sketse wat sy lewe en ryk verbeelding verteenwoordig. 200 Years: A Celebration of Port Eli-zabeth kos R400 en kan aanlyn by www.200years.co.za/ bestel word.
Die boek word op Vrydag 29 Januarie om 10:00 aanlyn bekend gestel.
Bentley sal beskikbaar wees om aanlyn vrae te beantwoord.
Besoek www.facebook.com/GFIArtGallerySA/ om die bekendstelling by te woon.




