Musiekliefhebbers kan met groot verwagting uitsien na ’n uitvoering deur die veelbekroonde Signum-strykkwartet van Duitsland wat vanaand, 27 November, in Gqeberha aangebied word.
Die lede van die talentvolle kwartet, Xandi van Dijk (altviool), Florian Donderer (viool), Annette Walther (viool) en Thomas Schmitz (tjello), bring tydens dié besoek ’n baie spesiale projek, Bridge the Chasms that Divide, saam met hulle na Suid-Afrika.
Met besondere werke word gepoog om 30 jaar van demokrasie te vier.
Tydens dié program sal onder andere werke deur Lise Morrison, Abel Selaocoe en Dizu Plaatjies met Matthijs van Dijk gehoor kan word.
Hierdie nuwe repertorium is almal opdragwerke van die Signum-kwartet en word deur die Ernst von Siemens Music Foundation ondersteun.
Twee standaard repertorium-werke, naamlik Joseph Haydn (Oostenrykse komponis) se Lark Strykkwartet Op. 64/5 en Johannes Brahms (Duitse komponis) se Strykkwartet in C mineur Op. 51 no 1 sal ook uitgevoer word.
Die Signum-kwartet is bekend vir hulle intieme en verfynde vertolkings wat tot deursigtige musikale kommunikasie lei.
Reeds wêreldwyd in aanvraag het die Kwartet in 2023 ‘n staande ovasie in die Carnegie Hall in New York met hulle debuutkonsert deur die gehoor ontvang.
Hulle toere word deur die Goethe Institute asook deur Volker Schütte, Suid-Afrika se Konsul-Generaal in Bremen, Duitsland gefinansier.
”Ons is voorwaar baie bevoorreg vir ’n geleentheid om na dié besondere kwartet se uitvoering te kan luister,” sê dr. Erika Bothma-Troskie, president van die Port Elizabeth-musiekvereniging.
“Dit is ook die ideale hoogtepunt om die Vereniging se 2024-konsertreeks mee af te sluit.”
Die konsert word vandag, Woensdag 27 November om 19:00 in die Nelson Mandela Universiteit se suidkampus-ouditorium aangebied.
Die kaartjies vir nie-lede kos R95 per persoon, R80 vir pensioenarisse, R40 vir studente en R35 vir leerders.
Geen voorafbesprekings sal gemaak kan word nie en die kaartjies sal by die deur beskikbaar wees.
Kontak Erika Bothma-Troskie by 082 308 4494 met navrae.





