Sanger, TV-aanbieder, fotograaf én grimeerkunstenaar Willem Botha, bied vanjaar ’n hele rits eksklusiewe MUD Masterclasses aan nadat hy ook sy eie palet, The Chosen Collection, deur dié gesogte handelsmerk einde 2019 bekendgestel het.
“Ek was nog altyd lief vir fotografie – om alles vas te vang wat ek en my vriende en familie gedoen het. Dit hetbegin as ‘n stokperdjie wat nou omgeskakel het in ‘n afdeling van my loopbaan,” het hy vertel.
“Boonop hou ek van kuns en ’n mooi prentjie, en is dit nie maar wat grimeerkuns, haarstilering en fotografie is nie?” het hy gesê-vra.
Willem het begin oefen om die hele prentjie mooi te maak en het homself daarop toegespits om te leer hoe om alles te doen om daardie perfekte prentjie te kry van A tot Z. Van die land se bekendstes soos Mej. Heelal 2017, Demi-Leigh Nel Peters en Mej. Heelal 2019, Zozibini Tunzi, voor sy kameralens gehad.
“Toe ek in 2006 aan Idols deelgeneem het, het ek baie geleer oor hoe om jouself te stileer vir die verhoog en foto’s. Ons het almal mekaar ook gehelp en ek kan sekerlik sê my belangstelling het daar begin,” het hy vertel.
“My vriendinne was partykeer te moedeloos om te begin grimeer voor ’n aandjie uit en dit was altyd ’n lekker uitdaging om sommer hulle hare en grimering te doen,” het hy bygevoeg.
“Ek het myself verder op YouTube geleer en toe gebeur dit dat Leah reklamefoto’s benodig. ’n Grimeerkunstenaar stoot die kostes nog verder op en toe het ek ingespring en met nét ’n oogpotlood haar hele oog geskakeer,” vertel hy.
Willem het ook begin om die kunstenaars en modelle wat hy moes afneem, self te grimeer en hul haarstilering te doen. Vandag word Willem hoog geag as grimeerkunstenaar – soveel so dat die internasionale grimeringshandelsmerk, MUD, Willem as hul ambassadeur gekies het én hy nou ook spog met sy eie kleurpalet – The Chosen Collection – wat deur hulle vervaardig word.
“Wat ’n ongelooflike reis was dit nie sover saam met Willem nie. Ek het aanskou hoe hy met grimering begin het as ’n behoefte vir sy fotografie tot waar hy nou ontluik het in een van die land se top grimeerkunstenaars,” het Brenda Thambe, eienaar van MUD Africa, gesê. Dit is ook met trots dat hul samewerking gelei het tot die eksklusiewe MUD Masterclass-reeks waartydens Willem van sy interessante wenke deel.
Op Sondag, 25 April kuier Willem Botha in Gqeberha (Port Elizabeth) by Andanté en kan die natuurskoon ook sommer ingeneem word terwyl Willem sal aanvul tot dié uitsig en elke vrou leer hoe om op haar beste te vertoon.
Verrigtinge begin om 09:30 en kaartjies kos R450. Dit sluit in die Masterclass, ’n kort vertoning, verwelkomingsdrankie, gourmet koffie- en teestasies, versnaperinge en water. ’n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.
Kaartjies is beskikbaar by Quicket by: http://bit.ly/MUD_PE.
WEN! WEN! WEN!
Twee gelukkige PE Express-lesers kan elk ’n kaartjie na Willem se sessie wen. Om in te skryf, vul net die vorm hier onder in.




