Dit is hoe die Schauderville-swembad tans lyk.

Daar is basies niks oor by die Schauderville-swembad om eens instandhouding te doen nie.

Dit is die woorde van wyksraadslid, Andy Jordan, oor die haglike toestand van dié fasiliteit, eens op ’n tyd ’n plek waarop die gemeenskap trots was omdat daar soveel geskiedenis in die fasiliteit opgesluit lê.

Vandag is daar egter weens vandalisme amper niks van die geriewe van die fasiliteit oor nie en is die leë swembad vol rommel ’n stille getuienis van die verwoesting wat daar gesaai is sedert kwaaddoeners die plek begin vandaliseer het.

“Ja, dit was alles as gevolg van vandalisme,” het Jordan uitgebrei.

“Daar is ’n klein muur wat oorgebly het wat ook nou verder stuk-stuk afgesteel word.

Inwoners is bitter ongelukkig oor die stand van sake want dit word nou ’n plek waar mense hulle rommel strooi.

Ons probeer om ’n begroting bymekaar te sit om iets aan die swembad te doen, maar daar moet eers sekuri-teit in plek wees voordat ontwikkeling kan plaasvind,” het hy bygevoeg.

Gemeenskapsleier en lid van die Blue Marlins-swemklub, Johnny Jordaan, oftewel oom Johnny, het vertel dat hierdie swembad, wat in die 1950’s gebou is, die oudste in die Baai se noordelike gebiede is en daarom eintlik as erfenisterrein verklaar moet word.

“Een van ons klublede het onlangs foto’s van die swembad gaan neem nadat ’n paar gemeenskapslede pro-beer het om die plek so bietjie skoon te maak en hy was in trane.

“Die swembad het nog altyd baie vir ons gemeenskap beteken en dit is hartseer om te sien dat dit so lyk,” het oom Johnny gesê.

Wyksraadslid, Andy Jordan, tydens ’n oorsigbesoek by die erg gevandaliseerde Schauderville-swembad. Foto’s: Verskaf

Dit is die plek waar die Blue Marlins-swemklub floreer het. Jonk en oud was amper elke dag by die Schauderville-swembad en naweke het gesinne mekaar oor ’n braaivleisvuur langs dié einste swembad leer ken.

“Hierdie plek het wonderlike swemmers opgelewer wat aan kompetisies in ander dele van die land deelgeneem het. As ons destyds kon, het ons seker van ons lede na die Olimpiese Spele ook gestuur,” het oom Johnny hartseer uitgebrei.

“Dié swembad is en was nog altyd ’n noodsaaklikheid vir ons gemeenskap want ons kinders moet kan leer swem. Dit is ook ’n plek wat mense nader aan mekaar gebring het.”

Daar is onlangs ook by die Gelvandale-gemeenskapsaal ingebreek en die fasiliteit is gevandaliseer.

Volgens oom Johnny het die verwoesting van die swembad klein begin. “Vandale het eers in die nag oor die heining geklouter om te swem, later is die heining gebreek en toe het die eintlike vandalisme en diefstal begin en die swembad is al ses jaar lank in onbruik.

“Die gemeenskap was kwaad want daar was glo dag en nag sekuriteit by die swembad toe neem die munisipaliteit dit weg en begin die geplundery.”

Oom Johnny het bygevoeg dat daar wel munisipale planne is om die fasiliteit te restoureer en dat hy self die planne onder oë gehad het.

“Ons weet nie hoe ver daardie pro-ses vorder of wanneer dit sal plaasvind nie, maar die Blue Marlins-swemklub wil eienaarskap van die fasiliteit neem. Ons het ook versoek dat dit ’n erfenisterrein verklaar word.”

Volgens oom Johnny verstaan hulle dat die land tans in ’n droogte vasgevang is en die swembad nie noodwendig met water opgevul kan word nie, maar hulle wil graag sien dat die fasiliteit na sy volle glorie herstel word en instandhouding plaasvind.

Ander munisipale fasiliteite loop ook ernstig onder vandalisme deur, insluitend die Gelvandale-gemeenskapsaal waar daar onlangs ingebreek is.

Volgens Jordan word geen waardevolle items by die saal aangehou nie en kon diewe slegs met skoonmaakmiddels wegkom. Die gebou se deure, plafon en ’n paar vensters is ook be-skadig. “Die COVID-19 inentingsprogram wat by dié saal moet plaasvind hierdie week, sal steeds voortgaan,” het Jordan gesê.

Volgens munisipale woordvoerder, Mamela Ndamase, is die munisipaliteit bewus van die skade wat by dié swembaddens aangerig is en sy het bevestig dat dit weens vandalisme is.

“Ons is tans besig om die toestand van al die fasiliteite wat erg gevandaliseer is en gerehabiliteer moet word, te bepaal. Dit is noodsaaklik sodat ons die rehabilitasiekoste en begrotingsvereistes vir die restourasie van die gevandaliseerde fasiliteite kan bepaal,” het Ndamase verduidelik.

Sy het bygevoeg dat die rehabilitasie van sportinfrastruktuur afhang van die beskikbaarheid van ’n begroting en sodra die kosteberaming beskikbaar is, sal ’n begroting aangevra word in lyn met die Raad se proses vir begrotingstoekennings.

“Daar is ’n plan om al die gevandaliseerde fasiliteite oor ’n vyf- tot tien- jaar-plan te herstel, maar dit hang af van die beskikbare kapitaalbegroting.”

Ndamase het ook gesê dat daar tans geen sekuriteit by die gevandali-seerde swembaddens is nie, maar dat die metro se anti-vandalismekomitee wat vanjaar deur die burgemeester saamgestel is, daarna kyk om sekuri-teitsmaatreëls by al die metro se fasiliteite toe te pas.

“Die komitee kyk tans na sekuriteitsopgradering wat onder meer kameras en sekuriteitswagte insluit. Begrotingsbeperkings het bygedra tot die verlies aan sekuriteitswagte by sekere van die metro se fasiliteite.”

Die St. George-swembad het ook erg onder vandalisme deurgeloop.

Die administratiewe kantore en kleedkamers by die St. George-swembad is ook gevandaliseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article