Abbey Nel as Towerspieel en Charlize Visser as Venadicta Evercold (die Yskoningin en Cinderella se stiefma).

Foto: Chris Gertsch Credit: Chris Gertsch

Trek nou vir ’n slag spoggerig aan en woon die Port Elizabeth se Musiek-en dramavereniging (Port Elizabeth Musical and Dramatic Society, PEMADS) se jaarlikse pantomime by.

“Cinderella and the Ice Queen’s Enchantment”, is ’n opvoering propvol kwinkslae wat deur PEMADS in samewerking met Centrestage en Line Out Productions in Gqeberha aangebied word.

Vanjaar se opvoering beloof om ’n produksie van uitstaande gehalte met die tema wat onblusbare liefde en onwrikbare dapperheid vier en boon-op deurweef is met humor wat die gehoor deurentyd sal vermaak, te wees.

Dié interessante twist van die bekende kindersprokie “Cinderella” of Aspoestertjie soos sy in Afrikaans bekend staan, speel af in ’n wonderwereld waar die sneeu nooit smelt nie en die wind geheime saggies deur die bome se blare fluister.

Dit is ’n verhaal vol intrige waar gevaar in die donkerte skuil met karakters wat so braaf is as wat kan kom.

Cinderella is lank nie meer ’n brose jong meisie wat in nood verkeer nie, maar ’n brawe jong vrou wat gedetermineerd is om die towerspel van Koningin Venedicta Evercold wat die land in ysige koue vasklem te verbreek.

Met die hulp van haar lojale vriend Danny Elfman die sneeu-elf, Trixie Twinkle en die ietwat grillerige towerfee gaan Cinderella op ’n avontuurlike reis wat volwassenes en kinders deurentyd vasgenael op hulle stoele sal hou.

Sal hulle daarin slaag om die Yskoningin se spel te verbreek, wie weet!

Tilette Roelofse en Yolande Farrow behartig die regie van die opvoering.

Roelofse en Bianca Swalwell sal verseker dat die choreografie glad verloop en Caeleigh-Anne Heradien is in beheer van die musiekregie van die toneelstuk waaraan 29 verhoogakteurs deelneem.

Ou bekendes sal soos gewoonlik hulle skoene volstaan met verskeie nuwe gesigte waarna uitgesien kan word.

“Die storie op sigself is reeds so boeiend,” sê Farrow.

“Elke toneel is gevul met magiese oomblikke en die entoesiasme van die groep akteurs maak elke oefening ’n pret-gevulde avontuur op sy eie! Een van die danstonele het selfs die hele cast en crew in trane gehad!”

Met kundige leiding wat deur Heradien met die musiek en sang verskaf word, word ’n vermenging van jazz en hip-hop met kontemporêre danstyle gekombineer.

David Limbert is in beheer van die beligting en Brendon Samuels sal die klank hanteer wat ’n groot bydra tot die betowerende atmosfeer sal bied.

Die atmosferies belaaide stelontwerp sal teatergangers na hulle asems laat snak en saam met die kostuums sal dit vir ’n besondere visuele ervaring sorg.

Getrou aan ’n pantomime sal daar ook interaksie met die gehoor plaasvind en daar kan vir Cinderella hande geklap word of die Yskoningin kan na hartelus uitgejou word.

Reginald die huiskneg en die Towerspieël sal meer as genoeg humoristiese oomblikke verseker.

“Cinderella and the Ice Queen’s Enchantment”, word van 3 tot 22 Desember (behalwe 9 en 17 Desember) by Centrestage en Line Out Productions se nuwe teater, Centrestage@Baywest op die boonste vlak by ingang een van die Baywest-inkopie-sentrum in Gqeberha aangebied.

Daar is ook twee speelvakke op 5, 12 en 19 Desember wat bygewoon kan word.

Die kaartjies kan aanlyn deur Quicket gekoop word. Tik net “Cinderella” in die soekblokkie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article