ohouh
‘n Pasiënt van die Mediclinic Paarl is ongelukkig oor die diens wat hy by dié hospitaal ontvang het. Foto: Mediclinic Paarl/ Google
Paarl Post

Pasiënt oorweeg regstappe ná komplikasie by Mediclinic Paarl

ohouh
‘n Pasiënt van die Mediclinic Paarl is ongelukkig oor die diens wat hy by dié hospitaal ontvang het. Foto: Mediclinic Paarl/ Google

‘n 61-jarige man van die Bainskloof-omgewing beweer hy is met ‘n ernstige en pynlike wond in sy lies gelaat nadat hy in Mei ‘n linkerheupvervanging in die Mediclinic Paarl ondergaan het.

Die wond, wat volgens hom tussen 15 cm en 20 cm lank en 1 cm diep was, het tot herhaalde hospitalisasies, infeksies, antibiotikabehandeling en talle opvolgbesoeke gelei.

Die man, wat verkies om anoniem te bly, sê die heupvervanging self was uiters suksesvol, maar dat die komplikasie wat ná die operasie ontstaan het sy herstelproses ingrypend beïnvloed het.

Hy vertel dat hy op 7 Mei vanjaar in die Mediclinic Paarl vir die prosedure opgeneem is.

Volgens hom het die ortopediese chirurg “uitstekende werk” gedoen en kon hy reeds die volgende dag weer loop.

Die man sê hy het egter kort ná die operasie ondraaglike pyn in sy linkerlies begin ervaar. Toe sy pynmedikasie uitgewerk het, het hy die ongemak aan personeel gerapporteer.

“Ek is meegedeel dat die pyn normaal is ná so ‘n prosedure,” beweer hy.

Onmiddellik teruggekeer

Volgens die man is hy die volgende dag ontslaan en moes hy by ‘n rehabilitasiesentrum in Worcester aanklop.

Hy sê hy het ook daar die liespyn aangemeld, maar dat niemand dit ondersoek het nie.

Eers nadat hy by sy woning aangekom het, het hy na bewering die omvang van die wond ontdek.

“Daar was ‘n diep sny in my lies, net langs my geslagsdele. Dit was uiters pynlik en heeltemal apart van die heupoperasiewond,” het hy in ‘n skriftelike klagte aan die hospitaal gesê wat aan die koerant gestuur is.

Die man het foto’s van die wond geneem en dit aan sy ortopediese chirurg gestuur, waarna hy aangeraai is om onmiddellik terug te keer na Mediclinic Paarl.

Volgens hom is hy daarna weer opgeneem en vir ongeveer vyf dae met medisyne behandel.

Die bron sê die wond het egter oor die daaropvolgende weke nie genees soos verwag nie.

Hy moes glo ses tot sewe keer tussen sy woning en Paarl reis vir wondbehandeling en opvolgondersoeke.

Volgens hom het die wond later septies geraak, waarna hy verskeie kursusse antibiotika ontvang het. Toe infeksiemerkers verhoog gebly het, is hy na bewering vir ‘n tweede keer gehospitaliseer, dié keer vir nog sewe dae.

Hy beweer dat die wond meer as twee maande ná die operasie steeds nie volledig genees het nie en dat hy steeds pyn ervaar wanneer hy loop.

Die man sê hy beskik oor uitgebreide kennis van die mediese bedryf nadat hy sowat drie dekades lank mediese toerusting aan dokters en hospitale verskaf het en talle operasies bygewoon het.

Volgens hom kon die wond nie deur die ortopediese chirurg tydens die vervanging van sy heup veroorsaak gewees het nie omdat dit ver van die operasiegebied was.

“Die heupoperasie is perfek uitgevoer en ek het onmiddellike verligting van my heuppyn ervaar. My kommer is oor wat daarna gebeur het,” sê hy.

Volgens hom het hy reeds regshulp ingewin en oorweeg hy verdere stappe.

Twee e-posse in Paarl Post se besit toon dat Mediclinic Paarl skriftelik aangebied het om, as ‘n gebaar van welwillendheid en sonder enige erkenning van aanspreeklikheid, redelike uitgawes wat direk verband hou met die behandeling van die lieswond te vergoed.

Koste oorweeg

In die korrespondensie word vermeld dat die hospitaal bereid is om die koste van wondversorgingsverbruiksgoedere en voorgeskrewe behandeling wat spesifiek met die bestuur van die wond verband hou, te oorweeg, mits fakture en bewys van betaling voorgelê word.

Volgens die man is hy egter ontevrede omdat sommige van die uitgawes uiteindelik deur sy mediese fonds betaal is en hy meen hy is nie vir alle koste en verliese vergoed nie.

LEES OOK: Skok vir ouers: Baba verkeerdelik as dood verklaar by Mediclinic

Volgens Jacorie Visagie, kliëntervaringbestuurder van Mediclinic Paarl, kan die hospitaal nie in die openbaar kommentaar lewer oor pasiëntsake nie.

“Mediclinic Paarl bly beskikbaar om direk met die pasiënt te skakel rakende enige bekommernisse wat hy mag hê,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article