JAN KEMPDORP, Noord-Kaap – ‘n Versameling mannekyne in asemrowende trourokke uit vervloeë dekades se mode-giere, outydse klere en onderklere (waarvan sommiges nooit gedra is nie), poppe, papierpoppe, dooprokke, satynhandskoene, haarborsels, outydse mooimaakgoedjies en miniatuur wenkbrouskeermessies verbyster besoekers aan die Nuwe Vaalharts-museum by Jan Kempdorp.
Die museum wat in ‘n opgeknapte huis uit toeka se dae ingerig is, is bietjie meer as 20km verder nadat jy die Vaalrivier by Warrenton oorgesteek het, en op die N18 op pad na die Vaalharts-besproeiingskema is.
Vanuit dié rigting is die museum reg langs die teerpad aan linkerkant, op die terrein van die Hotel Border Post-boetiekhotel en trou-venue.

Mannekyne van toeka pryk in vintage trourokke
Hier waar die ou Border-nedersetting eens was, sal jy die geesdriftige Penny van den Berg raakloop, wat glo nostalgie en ‘n begrip van waar jy vandaan kom, asook wie en wat jou voorouers was, is die wortels van gesonde toerisme. Dis dié dat sy glo mense moet genealogie gebruik om hulself binne hul eie bestaan te verstaan.
“Vra jou ouma, oupa, oom en tannie uit na die verlede, voordat waardevolle stories en komvandaan verlore gaan. Ons omgewing kry selfs oorsese gaste wat hul genealogie navors tot by die interneringskampe wat eens hier was.”
As ‘n nooi Procter het sy haar grootwordjare hier op rolskaatse op die ou inryteater se teerblaaie deurgebring voordat sy later die wêreld gaan verken het.

Penny is ‘n ervare hotelier wat die Stanford Hotel vir meer as 20 jaar besit het. Dit is twee jaar gelede verkoop. Sy het dit destyds in ‘n boetiekhotel omskep, ‘n museum bedryf en die dorpie as toeristebestemming op ‘n skeppende manier bemark. Iets wat sy ook in die Skema wil doen.
Omdat sy ook ‘n museumkurator en liefhebber van outydse (waardevolle) mannekyne, trourokke, klere en ander oudhede is, het sy ‘n gedeelte van haar versameling mannekyne en oudhede hierheen verskuif.
“Die uitstalling het onder meer oorspronklike vintage trourokke wat van 1880 tot 1980 dateer, klere, en ander memorabilia. Die uitstalling sal elke ses maande met ‘n ander tema vernuwe word.”
Haar museum is in een van die enkele ou woonhuise van die destydse nedersetting naby die Border-treinstasie ingerig, wat jare gelede op die grens van die ou Vrystaatse Republiek, die ZAR en die Kaapkolonie was.
“Agterom en tussen die drie huisies en die boetiekhotel is ‘n groot grasperk en bome, waar ek Saterdagoggende ‘n opelugmark wil hou. Op Stanford se stoepmark was daar varsgebak, blomme, pasta, handgemaakte produkte, aandenkings en wie weet wat te koop.
“Hierdie mark sal soortgelyk wees – en ‘n trekpleister wat entrepreneurs en toeriste van omliggende dorpe soos Taung, Hartswater, Warrenton, Christiana en Kimberley sal trek.”
Een van haar oogmerke is dat plaaslike aspirant-entrepreneurs wat kledingstukke kan maak, brei of hekel, gementor sal word om gesogte produkte te maak en dit reg te bemark.




Flikkerende TV-beelde uit ’77 wys Skema se storie
Tans word koffie en vars pannekoek, koek of roosterkoek by die aangrensende koffiewinkel aangebied. Pieter le Roux is die bestuurder van die koffiewinkel en die hotel, ‘n man wat ‘n diepe liefde vir die geskiedenis het. Só het hy al praatjies vir leerders aangebied om meer van die geskiedenis te leer en tegelykertyd piekniek op die grasperke gehou.
As gebore Jan Kempdorper het Pieter groot planne om die uitstalling oor die Skema se geskiedenis uit te brei. Hy het ou dokumentêre televisieprogramme opgespoor wat op ‘n TV-stel in die museum vertoon word.
Dié flikkerende beelde van 1977 vertel van die bouwerk aan die Vaalhartsbesproeiingskema wat in 1934 begin en ontwikkel het as die departement van lande se projek om werkloosheid en armoede tydens die Groot Depressie te verlig.
Vandag verkyk besoekers en inwoners van die Skema – die grootste van sy soort in die suidelike halfrond – hulle aan die programinhoud. Dit wys onder meer hoe die hoofkanaal met harde hande-arbeid gebou is om water uit die hoërliggende Vaalrivier se studam oor sowat 128 kilometer na die Skema te voer, met swaartekrag deur die laagliggende persele in kanale vloei en ondergronds dreineer word om verbrakking te voorkom. Oortollige water word later weer na die Hartsrivier uitgekeer, terug na die Vaalrivier.
Die hedendaagse TV-kykers herken hier en daar ‘n oom of tannie van vervloë dae, verluister hulle aan die formele Afrikaans was toe gebesig is, of herken hulself as skoolkinders op die skerm. Te siene is ook die destydse Mej. Suid-Afrika ,Suzette van der Merwe, waar sy die opening van die Vrouegedenk-monumentkerkie in die nabygeleë Hartswater amptelik help open.
Hulle verkyk hulle aan ou landboumasjinerie, oudmodiese metodes van ploeg en stroop, aan koringkultivars wat byna heuphoogte staan. Deesdae se koringkultivars groei veel laer.


Die destydse omgewing had slegs bloekombome en populiere om die wind te keer, die meeste van hulle steeds hier. Nie soos vandag nie, waar hemelhoë pekanneut- of olyfboorde die horison oorheers.
Die reliëfmodel in die museum is ‘n kleinskaalmodel van die Skema. Destydes het die departement van lande die “Vaalhartsnedersetting” op ‘n besproeibare oppervlak van 32 000 morg geskep, met weiveld van 92 000 morg, en 1 200 kleinhoewes. Hiervan strek die voedingskanale oor 100 myl, en die gemeenskapsleivore oor 350 myl.
Water vloei steeds deur die massiewe hoofkanaal wat later in die noord-kanaal (wat die grootste area bedien) en die wes-kanaal verdeel. Op plekke waar die terrein uitdagend is, word pype gebruik om water onderdeur laagliggende dele of riviere te dwing. Kleiner takkanale lei die water na spesifieke blokke en uiteindelik tot by die individuele plase waar boere leiwater vir vloedbesproeiing gebruik of water na hul eie damme pomp wat in drupbesproeiing of spilpunte gebruik word.
Elders in die museum is olielampe, tikmasjiene en ou kasregisters in uitstalkaste en bo-op ‘n rak, blinkgevryfde trofees wat destyds aan die boer met die grootste grondbone-oes, of die beste soja-oes oorhandig is. Katoen was toe ook nog ‘n gewilde gewas om aan te plant.
Talle toerisme-moontlikhede nog onontgin
Volgens Penny is daar soveel toerisme-moontlikhede in dié gedeelte van die Noord-Kaap.
“Ek het die Phokwane plaaslike munispaliteit met sakeplanne genader om die toerisme te bemark, en die bestuurder was baie opgewonde. Ek wag nog vir sy terugvoering en die beloofde geldelike inspuiting om die wiele aan die rol te kry.”
Haar planne sluit ‘n nuwe inligtingsbrosjure en uitvoukaart, asook ‘n toerismekantoor in. Sy wil amptenare as toergidse oplei, “want ons gaan nie vir ewig hier wees nie. Ons wil ons dorp ook as een van die mees romantiese troubestemmings in Suid-Afrika bemark.”
Hul volgende vergadering met die plaaslike toerismedepartement van Phokwane, en ander rolspelers in die gasvryheidsbedryf, is op 8 April.
Sy gebruik haar uitgebreide ervaring van sosialemedia-bemarking en plaas byna daagliks foto’s van die museum, hotel, die idilliese landskap met sy doringbome, rooi sonsondergange, plaaswerkers in pekanneutboorde en plaashonde.

Benewens die museum en Hotel Border Post, is daar ander toeriste-aantreklikhede soos die interneringskampe op die Jan Kempdorp-gholfbaan (vir Duitsers) en die een in Ganspan (vir Italianers) wat groot buitelandse akademiese belangstelling ontlok.
Kgosi Galeshewe is ook in die omgewing begrawe. Hy was hoofman van die Tlhaping wat in die laat 19de eeu weerstand teen Britse koloniale uitbreiding in die Noord-Kaap gebied het. Hy is veral bekend vir sy leiersrol tydens die Langeberg-rebellie van 1896, wat uitgebreek het ná spanning oor grondregte en die uitwissing van beeste weens runderpes. Na die onderdrukking van die opstand is hy vir tien jaar op Robbeneiland opgesluit, maar hy het ‘n simbool van onwrikbare verset gebly.
Van hedendaagse elektriese laaistasie tot stokou trekkers
‘n Nabygeleë vulstasie word oorgebou, en ‘n elektriese laaistasie word beplan aan die ander kant van die Hotel Border Post wat Bennie Liebenberg en sy vennoot, Henning van Aswegen, ‘n paar jaar gelede opgeknap het.
Bennie wil ook met die munisipaliteit gesels oor die moontlikheid om die landbouboumuseum met sy fassinerende versameling van antieke landboutoerusting, van ou oswerk-ploeë tot vroeë trekkers, wat die storie van die streek se boerderygeskiedenis vertel, na ‘n veiliger plek te verskuif. Die versameling sal met skenkings aangevul word, juis omdat agri-toerisme een van die omgewing se groot trekpleisters is.
Hier is baie moontlikhede in die Skema, en dit word raakgesien.
- LEES OOK: Ekspo laat (ou) wiele draai
- BESOEK OOK: Vaalharts Veteraan Klub op Facebook.






You must be logged in to post a comment.