Amelie Brandt
Amelie Brandt (14). Foto: Verskaf

PAARL – Amelie Brandt (14) van die Paarl het, as deel van haar graad 8-skoolprojek, ’n innoverende benadering uitgedink om rommel in Mbekweni se strate te verminder – deur sokkerballe uit te deel vir diegene wat ‘n sak vol rommel, wat hoofsaaklik bestaan uit plastiek, skool toe te bring.

Brandt is ‘n leerder aan die Green School Suid-Afrika buite die Paarl wat daarop fokus om die konsep van volhoubaarheid in hul sillabus te integreer.

Volgens haar spruit haar idee voort uit ’n jaarlikse projek wat alle graad 8-leerders voltooi, bekend as “Quest,” of in Afrikaans, ‘n “Passieprojek”. Dié projek strek oor ongeveer ses maande en vereis dat leerders een van hul passies identifiseer en dit ontwikkel in ’n projek wat ’n komponent van omgewings- of sosiale volhoubaarheid insluit.

Die einde van die “Passieprojek” dui ‘n leerder se afsluiting in die skool se intermediêre fase aan en die begin van hul hoërskoolloopbaan. Die projek eindig dan met ’n voorlegging wat binnekort plaasvind, het Brandt gesê.

Die projek

Op ‘n dag het Brandt op die N2 gery en die hoeveelheid rommel wat sy gesien het, was massief, het sy verduidelik. Daar en dan was die fondament van haar “Passieprojek” – om rommel in dié gebied te verminder – gelê.

Brandt het toe uitgereik na ‘n sokkerspan wat op die Boy Louw-sportterrein geoefen het en het ‘n ooreenkoms met hulle aangegaan: vir een sak rommel wat opgetel word, kry elke sokkerspeler ‘n sokkerbal.

In drie weke het dié innoverende tiener 27 sakke rommel van die sokkerspelers ontvang en kon dus vir elkeen ‘n geskenkte sokkerbal gee.

Toe sy hiermee klaar was, het haar ma vir haar gesê: “jy kan of nou die projek klaar maak, of jy kan dit groter maak”.

Brandt het nie op haar laat wag nie, en besluit om die projek nóg meer uit te brei.

Sy het verduidelik dat baie van die sokkerspelers wat sy op die Boy Louw-sportterreine ontmoet het, afkomstig is van Mbekweni waarna sy uitgereik het na die Mbekweni Primêre Skool om die projek vlerke te gee.

Sy het motiveringspraatjies aan die leerders gelewer om hulle aan te moedig om aan die projek deel te neem, en het kort daarna ’n donasie van 100 sokkerballe van Shoprite ontvang. Nadat die skool se klasse elk ’n sak rommel ingesamel het, kon sy vir elk van die 28 klasse ’n sokkerbal oorhandig.

Brandt het altesaam 1 200 sakke rommel ontvang wat aan die Drakenstein-munisipaliteit se afvaldienste oorhandig is en wat dit kon verwerk het.

LEES OOK: Munisipaliteit bewerk sy eie herwinningsplan

Brandt het verduidelik dat haar projek nog nie voltooi is nie en dat sy nog 72 sokkerballe oor het uit Shoprite se skenking. Sy beoog om minstens nog twee skole in die Drakenstein-gebied te besoek om dieselfde projek daar te implementeer.

Tydens die bekendstelling van haar projek het hierdie hardwerkende tiener ook die geleentheid gekry om die Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Ricardo Mackenzie, asook die minister van basiese onderwys, David Maynier, tydens ’n “First Thursday”-geleentheid in Kaapstad te ontmoet.

Sy het met groot passie verduidelik dat sy baie uit die projek geleer het, veral dat die skoliere met wie sy gewerk het, nie altyd geweet het watter tipe rommel in watter kategorie hoort nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article