Jarque Jacob, voorsitter van die Wellington GPF.

Die Wellington-gemeenskaps- polisiëringsforum (GPF) is verlede week as die derde beste GPF in die Wes-Kaap op die polisie se jaarlikse Prestige-toekennings aangewys.

Jarque Jacobs, GPF-voorsitter, het ook tweede plek behaal in die afdeling vir uitmuntende leierskap in gemeenskaps- polisiëring.

Dié jaarlikse toekennings word deur die departement van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid aangebied as ‘n manier om GPF’s en buurtwagte vir hul toewyding, innovasie en diens in gemeenskappe te vereer.

Jacobs sê hy was heeltemal ontkant betrap met die toekennings en is dankbaar dat die harde werk wat hy en sy groep insit, raakgesien word.

“Ek kon dit aanvanklik nie glo nie, veral omdat ons teen 151 ander (groter) polisiestasies meegeding het,” sê Jacob.

Hy skryf die sukses van die Wellington-GPF toe aan ‘n groep mense wat lief is vir hul gemeenskap en die beveiliging daarvan.

“Daar is eintlik so baie wat in die agtergrond gebeur. Ons as groep verwag nooit om enige erkenning daarvoor te kry nie.

“Een ding wat almal in gemeen het, is daardie gedeelde toewyding om ons gemeenskap te beveilig. Dit is mense wat die probleme in ons gemeenskappe identifiseer en vir hulself sê dat hulle deel van die verandering wil wees.”

Hy benadruk dat sy pligte as voorsitter nie altyd ‘n maklike taak is nie.

“Een van my grootste take is altyd om moraal onder ons lede te kweek en te behou. Wanneer daar verskille is, probeer ek altyd die groep herinner hoekom ons dit in die eerste plek doen.

“Dinge verloop ook nie altyd volgens plan nie, maar ons ondersteun mekaar. Ons kry ook ongelooflik baie onder- steuning van ons verskeie veiligheidsvennote.”

Hy het sy dank aan die Wellington- polisie en die groter gemeenskap uitgespreek.

“Een van ons grootste doelwitte was om die verhouding tussen die gemeenskap en die polisie te herstel. Hoe- wel dit iets is waaraan ons nog elke dag werk, sien ons reeds die verandering.

“Ons gemeenskap is nou meer geneig om saam met die polisie te werk. Inligting word nou vinnig gedeel, wat die oplos van misdade vir die polisie vergemaklik.

“Ons dank die gemeenskap vir hul samewerking en ook die polisie as ons belangrikste veiligheidsvennoot. As ons by hierdie formule hou, kan ons Wellington die beste polisiestasie in die land maak,” sê hy.

LEES OOK: Wellington se blou ‘voetsoldate’ staan polisie by

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article