Die Wellingtonner Ryland Nyman (43) wat in Oktober verlede jaar sy vrou Danielle met ‘n vlambare middel gegooi en haar aan die brand gesteek het, het vandag (8 Desember) skuld beken op aanklag van poging tot moord en is 18 jaar tronkstraf opgelê waarvan drie jaar opgeskort is. Hy sal dus 15 jaar van sy vonnis moet uitdien.
In ‘n lang en omvattende pleitooreenkoms wat deur sy prokureur aan die hof voorgelees is, het Nyman aan die Paarl-streekhof erken dat hy ten tyde van die misdaad by sy volle positiewe was en dat dit nooit sy bedoeling was om sy [nou] eksvrou om die lewe te bring nie.
Volgens Nyman het hy berou oor die daad.

Die hof het gehoor dat Nyman op 11 Oktober verlede jaar in ‘n geskil met Danielle was. Die twee het toe reeds op skei gestaan.
Hulle was in daardie stadium ses jaar getroud, maar was toe al vir bykans 20 jaar in ‘n romantiese verhouding.
Danielle het daardie dag vir Nyman gekonfronteer oor wanneer hy sy sakke gaan pak en gaan uittrek.
Die twee het saam met hul dogter op Danielle se ouers se erf gewoon.
Nyman het aan die hof erken dat hy ná ‘n gestry terpentyn op Danielle gegooi en haar aan die brand gesteek het.
Danielle se pa het die geraas gehoor en is toe agter na die wendyhuis toe.
Sy is met ernstige brandwonde aan hoofsaaklik haar gesig en bolyf gehospitaliseer en ontvang tot vandag toe behandeling.
Die hof het ook gehoor dat die twee se egskeiding in Junie vanjaar afgehandel is.
LEES: Wellington-brandslagoffer maak oop oor emosionele, finansiële letsels
Die landdros het op sy beurt aangevoer dat hoewel Nyman verantwoordelikheid vir sy optrede aanvaar het, “kan sy gedrag nie geregverdig word nie”.
“Die grondwet maak voorsiening vir almal se reg op veiligheid. Almal se reg om vry te wees van skade.
“Die feit bly staan, hierdie is ‘n ernstige oortreding en hoewel die beskuldigde ‘n eerste ootreder is, is dit die hof se verantwoordelikheid om teen sulke gedrag op te tree.
“In ‘n samelewing wat geteister word deur geslagsgeweld moet ons ‘n ernstige standpunt inneem dat geskille, in dié geval huishoudelike geskille, nie met geweld opgelos hoef te word nie,” het die landdros aangevoer.
Danielle se familie het vandag vlugtig buite die hof aan Paarl Post gesê hoewel hulle gehoop het vir ‘n swaarder straf, is hulle verheug dat hulle nou hierdie hoofstuk kan afsluit.
Albei families het die vonnisverrigtinge bygewoon.






You must be logged in to post a comment.