Van haar eerste skaakles tot die Wes-Kaapse span in net agt maande

Die negejarige McKenzie Sias, 'n gr. 3-leerder aan Saint Albans Primêr, berei haar nou voor om die Wes-Kaap by 'n skaaktoernooi in Bloemfontein te verteenwoordig. Foto: Verskaf
McKenzie Sias (9), ‘n gr.3 leerder by Saint Albans primêr maak nou gereed om die Wes-Kaap tydens ‘n skaak toernooi in Bloemfontein te verteenwoordig. Foto: Verskaf

Van haar eerste skaakles tot die Wes-Kaapse span in net agt maande

Die negejarige McKenzie Sias, 'n gr. 3-leerder aan Saint Albans Primêr, berei haar nou voor om die Wes-Kaap by 'n skaaktoernooi in Bloemfontein te verteenwoordig. Foto: Verskaf
McKenzie Sias (9), ‘n gr.3 leerder by Saint Albans primêr maak nou gereed om die Wes-Kaap tydens ‘n skaak toernooi in Bloemfontein te verteenwoordig. Foto: Verskaf

“Ek het al my wedstryde gewen, mammie!”

Dít was die woorde waarmee die negejarige McKenzie Sias van Wellington ná haar eerste skaakwedstryd tot by haar ma, Cherise Inge Sias, gehardloop het. Maande tevore het sy nog huilend by die huis aangekom omdat sy gesukkel het om die spel te leer. Nou, net agt maande nadat sy die eerste keer geleer het hoe die skaakstukke beweeg, is sy deel van die Wes-Kaapse span.

McKenzie se skaakreis het in Januarie begin toe sy haar ma ná skool vertel het haar onderwyser het drie sportsoorte genoem waaraan leerders kon deelneem.

“Toe kies ek skaak,” het sy volgens haar ma gesê.

Sias het toe nie geweet haar dogter het ‘n besondere talent vir die spel nie. Die pad na haar eerste wedstryd was boonop nie maklik nie.

“Toe McKenzie begin leer het, was dit maar taai vir haar. Sy het elke dag kom huil en gesê: ‘Ma dit is te swaar om te leer,’ ” het Sias vertel.

“Ek het haar elke dag gesê as sy nie meer wil aangaan nie, moet sy my net sê en dan hoef sy nie voort te gaan as sy nie wil nie. Sy het altyd gesê: ‘Nee mammie, ek gaan uithou tot my eerste skaakwedstryd, dan sal ek vir mammie sê of ek nog wil skaak speel.”

Daardie eerste wedstryd het alles verander.

“Toe sy terugkom huis toe, het sy aangehardloop gekom na my en geskree: ‘Mammie, ek het al my wedstryde gewen!’ Sy het in my arms gespring en ek kon haar net so vashou. Dit was vir my die trotsste oomblik, want ons tranedal was nie verniet nie,” vertel Sias.

Sedertdien het McKenzie reeds brons in die provinsiale kampioenskap verower en goud by die Kings and Queens-spanuitnodigingstoernooi. Haar vordering het haar nou ‘n plek in die Wes-Kaapse span besorg.

Sias sê die gesin is baie trots op haar, maar probeer haar terselfdertyd leer dat sukses nie net oor wen gaan nie.

“Ons vier elke sukses saam met haar, maar ons laat haar verstaan dat sy nie die enigste een is wat suksesvol is nie. Daar is ander kinders wat ook goed doen en hard werk om hul doelwitte te bereik. Ons moet vir hulle ook hande klap en erkenning gee,” sê Sias.

Voor elke toernooi herinner sy haar dogter om die spel te geniet – ongeag die uitslag. “Wen of verloor; jy is my trots. Jy het almal wat vir jou omgee, agter jou. Al wen jy nie, gaan ons steeds die hardste vir jou skree.”

Skaak is egter nie al waarin McKenzie goed presteer nie. Sy is ‘n gr.-3-leerder aan Saint Albans Primêr en was in die eerste en tweede kwartaal die toppresteerder in haar klas. In die derde kwartaal het sy die tweede plek beklee.

Hoewel sy daagliks skaak oefen, volg McKenzie nie ‘n streng oefenroetine nie. Haar ma sien toe dat haar huiswerk en leeswerk ook ‘n plek in haar daaglikse roetine het.

“Ek praat gereeld met haar oor hoe belangriik skoolwerk is. As jy nie jou skoolwerk doen nie, kan jy nie jou drome bereik nie,” sê Sias.

Buiten skaak speel McKenzie ook netbal en hokkie, sy neem aan geestelike dans deel en was ook deel van haar skool se sanggroep. Sy het ook aan die Sanlam-WOW-spelfees deelgeneem en op die televisieprogram Lollos en Vriende verskyn.

Volgens haar ma het skaak ook ’n verskil aan McKenzie se selfvertroue gemaak.

“Sy was maar teruggetrokke, maar haar selfvertroue het ’n hupstoot gekry. Ek sien ook sy begin om vooruit te dink,” sê Sias.

Nou wag die Mzansi- nasionale kampioenskap in Bloemfontein in Desember, waar McKenzie die Wes-Kaap sal verteenwoordig. Haar grootste wens is om almal wat in haar glo, trots te maak.

Om daar uit te kom, is egter nie vanselfsprekend nie. Die koste van vervoer, verblyf, kos en die Wes-Kaapse spanuniform is ‘n groot uitdaging vir die gesin.

Sias sê dit is hartseer om te weet waartoe haar dogter in staat is, maar dat hul geldsake moontlik in die pad van haar droom kan staan.

Dit het haar veral geraak toe McKenzie voorgestel het dat sy self begin spaar.

“Sy het vir my gesê: ‘Mammie, ek gaan van nou af in my blikkie begin spaar. Dan kan Mammie ook daardie geld gebruik om te help betaal vir my skaak.’

“Ek het diep in my hart gehuil terwyl ek haar vasgehou het en gesê: ‘Dis oukei, my lief. Hou jou geld. Mammie sal alles uitsorteer.’”

Die gesin het daarom ’n BackaBuddy-veldtog begin om geld vir die toer in te samel.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article