Rebekah Nel (16), Riaan Pietersen (afrigter) en Dylan Pietersen (18). Foto: Verskaf

Twee Paarlse skopboksers word wêreldkampioene


Twee jong skopboksers van die Paarl het die afgelope week wêreldtitels by die WAKO-wêreldkampioenskap vir kinders, kadette en juniors verower in Jesolo Lido, Italië.

Die kampioenskap is vanaf 18 tot 27 September aangebied. Meer as 78 lande het daaraan deelgeneem. Die twee vegters van Titans MMA Sports Academy het vir Cape Winelands Kickboxing meegeding.

Rebekah Nel (16) en Dylan Pietersen (18), alombekend as “Die Main Hond” het as wêreldkampioene na Suid-Afrika teruggekeer.

Rebekah het goud in haar afdeling verower en is volgens Titans MMA Sports Academy die eerste Suid-Afrikaanse vroulike vegter wat goud by ‘n WAKO-wêreldkampioenskap verower.

Vir Dylan was die titel die hoogtepunt van ‘n merkwaardige terugkeer nadat ‘n lewensbedreigende siekte hom twee jaar gelede daarvan weerhou het om vir die wêreldkampioenskap gekies te word.

“Die Main Hond” het vanjaar na die kompetisie teruggekeer en volgens die klub die tweede Suid-Afrikaanse vegter sedert 2012 geword om goud in WAKO-ringkode by die by die wêreldkampioenskap te verower. Drikus du Plessis was die vorige Suid-Afrikaner om dié prestasie te behaal.

Buite die sport studeer Dylan sakestudies deur Cambridge Universiteit by GenX College in Kaapstad. Rebekah is ‘n leerder by Hoërskool Gimnasium Paarl.

Riaan Pietersen, hoofafrigter van Titans MMA Sports Academy en president van Cape Winelands Kickboxing, beskryf die prestasie as ’n besonderse oomblik vir die klub.

“Vandag moet een van die trotsste oomblikke as afrigter wees. Twee van ons skopboksers het wêreldkampioene geword in die grootste arena ter wêreld,” het hy gesê.

Pietersen, wat ook Dylan se pa is, sê die week van die kompetisie het baie geleenthede gebied om te leer. Hy glo skopboks in Suid-Afrika maak ‘n terugkeer.

Die prestasie beklemtoon ook die groei van skopboks in die Kaapse Wynland, met Titans MMA Sports Academy wat vanuit die Paarl op provinsiale, nasionale en nou wêreldvlak presteer.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article