Een van die vuurwapens waarop die polisie verlede week beslag gelê het.

Drie van die vier mans wat verlede week die Pep Stores in Wellington se Hoofstraat beroof het, se saak is tot 6 Oktober uitgestel wanneer die trio na verwagting om borgtog sal aansoek doen.

Paarl Post het verlede week berig dat ‘n vierde verdagte honderde meters van die winkel doodgeskiet is nadat hy glo ‘n vuurwapen op die polisie gerig het.

LEES: Vermeende rower deur polisie in Wellington doodgeskiet

Die drie rowers het verlede Donderdag (25 September) die eerste keer in die Wellington-landdroshof verskyn, waar die saak tot Maandag (29 September) uitgestel is aangesien regsdienste nie beskikbaar was nie.

Die drie mans staan tereg op aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die besit van onwettige vuurwapens.

Swaar bewapende polisiebeamptes was met Maandag se verskyning binne en buite die hof sigbaar.

Die publiek, insluitend die media, is gevra om te verdaag en is nie toegelaat om die drie se verskyning by te woon nie.

Paarl Post verstaan dat die drie verdag- tes glo verlede week met hul eerste ver- skyning in die hof beweer het hulle is in aanhouding deur die polisie aangerand.

Die landdros het verlede Donderdag glo selfs uit haar stoel opgestaan om na die verdagtes se “wonde” te kyk.

‘n Ooggetuie het verlede Maandag (22 September) op die toneel aan Paarl Post vertel dat vier mans die winkel omstreeks 13:30 binnegestorm het.

Klante en van die personeel is glo in een van die kamers aan die agterkant van die winkel toegesluit, vertel die ooggetuie.

Volgens haar was die polisie binne enkele minute nadat die mans by die winkel toegeslaan het, op die toneel, waarna ‘n skietery uitgebreek het.

Een van die verdagtes is in Voorstraat, sowat 300 m van Pep Stores af, noodlottig gewond.

Die ander drie is in dieselfde omgewing deur die polisie aangekeer en in hegtenis geneem.

Die polisie en forensiese patologiedienste in Voorstraat, Wellington, waar een van die rowers noodlottig gewond is. Foto: Rasaad Adams

Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die polisie het inligting ontvang oor twee verdagte voertuie wat Maandagmiddag in die parkeerterrein van ‘n supermark gestaan het.

“By hul aankoms op die toneel het [die bestuurders van die] twee voertuie, ‘n sil-

wer en ‘n swart Kia Picanto, weggejaag.

“Hulle het vier onbekende mans opgemerk wat in die rigting van die taxistaanplek gehardloop het en hulle te voet agternagesit.

“Een van die verdagtes het polisielede met ‘n vuurwapen bedreig en is noodlottig gewond,” sê Twigg.

Twigg het bevestig dat drie ander volwasse mans in hegtenis geneem is.

Hy sê die polisie het op twee 9mm-pistole met ammunisie asook ‘n plastieksak met selfone beslag gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article