Een verdagte is sowat 300 meter van waar die Pep-winkel geleë is deur die polisie doodgeskiet. Foto: Rasaad Adams

‘n Vermeende rower wat saam met drie ander ‘n Pep Stores-winkel in Wellington se Hoofstraat beroof het, is Maandag (22 September) deur die polisie doodgeskiet.

‘n Ooggetuie het op die toneel aan Paarl Post vertel dat die gewapende mans die winkel omstreeks 13:30 binnegestorm het.

Die klante en van die personeel is glo in een van die kamers aan die agterkant van die winkel toegesluit, vertel die ooggetuie.

Volgens haar was die polisie binne enkele minute nadat die mans by die winkel toegeslaan het, op die toneel, waarna ‘n skietery uitgebreek het.

Een verdagte is in Voorstraat, sowat 300 m van waar die Pep Stores geleë is, noodlottig gewond.

Wesley Twigg, ‘n provinsiale polisiewoordvoerder, het in ‘n verklaring gesê die polisie het inligting ontvang oor twee verdagte voertuie wat Maandagmiddag in die parkeerarea van ’n supermark gestaan het.

“By hul aankoms op die toneel het die twee voertuie, ’n silwer en ’n swart Kia Picanto, weg gejaag.

“Hulle het vier onbekende mans opgemerk wat in die rigting van die taxistaanplek gehardloop het en het hulle te voet agternagesit.

“Een van die verdagtes het polisielede met ’n vuurwapen bedreig en is noodlottig gewond,” sê Twigg.

Volgens Twigg is drie ander volwasse mans in hegtenis geneem.

Hy sê die polisie het op twee 9mm-pistole met ammunisie asook ’n plastieksak met selfone beslag gelê.

Die verdagtes sal Donderdag (25 September) in die Wellington-landdroshof verskyn.

*Hierdie artikel is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article