“Dis ‘n gogga wat jou byt en daar is nie salf wat daardie bytwond kan genees nie.” Só beskryf Grant Johnson radio.
Johnson, die aanbieder van die KC Breakfast Show op KC 107.7, se stem is al oor verskeie radiostasies oor die land heen gehoor, en hoewel hy telkemale probeer het om radio af te skud, was radio nooit van plan om hom te laat gaan nie.
Oor die jare het hy heelwat meer gedoen as net aanbied. Hy het by verskeie stasies gewerk en onder meer produksiewerk gedoen, aanbieders laat skaduwerk doen, klasse gegee en as programbestuurder opgetree.
Net toe Johnson dink radio kan hom niks nuuts wys nie, word hy as waarnemende bestuurder van KC 107.7 aangestel.
Dis ook waar sy loopbaan 26 jaar gelede begin het.
Die stasie se raad, onder leiding van die voorsitter, Razine Adams, het hom onlangs genader om as waarnemende bestuurder op te tree.
Johnson was nog altyd gefassineer deur radio. “Ek kon net nie verstaan nie: Hoe gebeur dit dat ek in die motor sit en ek hoor die persoon praat oor die radio?”
Uit nuuskierigheid het hy in die jaar 2000 by KC 107.7 ingestap om uit te vind hoe radio werk. Daardie dag was die stasie toevallig op soek na stemme en wyle Ernest Loth het aan hom ‘n bladsy oorhandig wat hy nou herken as ‘n regstreekse voorlesing.
Kort daarna het hy die Funky Fever-program aangebied en later ook die Wacky Wednesday-ontbytprogram.
In 2003 het hy programbestuurder by KC geword, ‘n pos wat hy tot in 2005 beklee het.
Daarna het ‘n oproep van Selwyn Bartlett hom na Kaapstad geneem, waar hy as plaasvervangende vervaardiger vir ‘n ontbytprogram by Heart FM begin werk het.
Die skuif was intimiderend vir die jong man van die Paarl, wat toe sy voete in die groot stad moes vind.
Die stasie het hom aanvanklik net ‘n twee-weke-kontrak aangebied, en op die laaste dag van sy kontrak is hy meegedeel dat die stasie hom nie wou laat gaan nie. Hulle het toe ‘n program vir hom geskep en gesê ’n nagprogram is die enigste pos wat hulle hom op daardie oomblik kon aanbied.
Johnson het later die Top Ten at Ten-program by Heart FM geskep. Hy en Alistair Izzobel het ook die Weekend with Grant Johnson and Alistair Izzobel-program aangebied. Daarna het hy by SM Radio aangesluit, waar sy ontbytprogram op vier radiostasies uitgesaai is. SM Radio het die Paarlse boorling oor die land heen laat reis.
In 2014, 2015 en 2016 het hy as plaasvervangende aanbieder by Good Hope FM gewerk.
Meer as net radio
Radio was egter nie sy enigste loopbaan nie. Johnson het verskeie ondernemings begin, waaronder ‘n Cash for Gold en die gewilde nagklub Cellars. TC Events is ook syne.
Vroeër het hy ook ‘n haarsalon met sy vriend begin en ‘n mediamaatskappy, Supreme Media, bedryf en by gemeenskapsradiostasies met programmering, verkope en opleiding gewerk.
In 2017 het Franklin Huizies, een van KC 107.7 se stigterslede, hom genader om terug te keer na die stasie.
Johnson het ingestem, maar voor die eerste jaar verby was, het TC Events so gegroei dat hy weer ‘n keuse moes maak.
Radio of sy onderneming?
Johnson het radio laat vaar.
Tog was dit nie die laaste keer dat die medium hom teruggetrek het nie.
“Jy kry onttrekkingsimptome,” sê hy oor die aantrekkingskrag van radio.
Vir Johnson gaan dit oor veel meer as ‘n stem wat deur luidsprekers by luisteraars uitkom. “Dit gaan oor vertroue, eerlikheid en die verhouding wat ek met mense opbou, al ontmoet ons mekaar nooit in lewende lywe nie,” het hy passievol beklemtoon.
Dis juis hoekom Goed Doen Dinsdag, ‘n segment op die KC Breakfast Show, so na aan sy hart lê. Die inisiatief gee organisasies en individue ‘n platform om oor hul werk te praat en luisteraars die geleentheid om in te spring en te help.
Terug as bestuurder
Nou moet Johnson sy oggendprogram tussen 06:00 en 09:00 met sy bestuursverantwoordelikhede balanseer.
Hy sê hy wil KC 107.7 se 30-jarige geskiedenis as grondslag gebruik om die stasie vorentoe te neem.
Johnson beklemtoon onder meer vennootskappe, ‘n toegewyde span en die belangrikheid daarvan om werknemers se bydrae tot die stasie te waardeer.
Hy glo ook aan ‘n gesonde werksomgewing.
“Ek sal nooit my posisie gebruik om mense te mishandel nie, want dis nie iets wat ek wil hê mense moet aan my doen nie,” het hy beklemtoon.
Ondanks sy ander ondernemings en verantwoordelikhede bly radio die konstante waarna hy elke keer terugkeer.
Elke oggend moet hy luisteraars gereed kry vir die dag wat voorlê, ongeag wat in sy eie lewe aangaan. Opregtheid is vir hom ononderhandelbaar. “Wat jy hoor, is wat jy kry. Outentiekheid is my ding,” sê Johnson.
Hy beskryf sy pad as ‘n kringloop wat hom telkens na dieselfde plek teruggebring het. “Maak nie saak hoeveel keer ek radio probeer los het nie, radio se greep op my was sterk.”



