wayne wantza
Wayne Wantza. Foto: Argief/ Jana Scheepers

Die polisiespeurder Wayne Wantza (42), wat na bewering op 26 Julie verskeie skote in Schoongezichtstraat, Wellington, afgevuur het, het vandag (7 November) in die landdroshof in Wellington verskyn.

Die saak is uitgestel tot 4 Februarie 2026 waar die hof sal beslis of hy vir psigiatriese evaluasie gestuur moet word.

Wantza het tydens die hofverskyning by monde van sy regsverteenwoordiger, Andre Brown van Andre Brown Attorneys, gesê hy was “non compos mentis” ten tyde van die beweerde moord en poging tot moord.

Non compos mentis is ‘n Latynse term wat beteken “nie in besit van ’n gesonde verstand nie.”

Sy regsverteenwoordiger het ook aangedui dat Wantza nie in staat is om die huidige hofverrigtinge te verstaan nie.

In die skietery is sy eksmeisie, Elzaan Gallant, ernstig gewond en haar nuwe kêrel, Petrus Jacobs (49), is dood.

Die staat wag ook op die artikel 78-verslag waarvoor die verdediging tydens ‘n vorige hofverskyning aansoek gedoen het.

‘n Artikel 78-verslag word uitgereik deur ‘n private mediese dokter wat aangestel word deur die verdediging wat die geestestoestand van die verdagte ten tyde van die misdaad uitstippel.

Die staat mag hierdie bevindinge bevraagteken deur sy eie deskundiges aan te stel, volgens die staatsaanklaer.

Elzaan Gallant
Elzaan Gallant. Foto: Argief

Brown het tydens ‘n vorige hofverskkyning aangedui dat ’n aansoek beplan word om te argumenteer dat die beskuldigde tydens die beweerde misdrywe nie strafregtelik toerekeningsvatbaar was nie.

Daar is glo reeds toestemming van die Wes-Kaapse kantoor van die direkteur van openbare vervolgings verkry vir ‘n moontlike pleitooreenkoms.

Gallant is glo sewe keer deur Wantza geskiet, vyf keer in haar bors en een keer in elke arm, volgens Netwerk24, terwyl Jacobs weens een koeël in die bors gesterf het met die koeël wat glo regdeur sy ruggraat is.

Wantza het by ‘n vorige hofverskyning sy borgtogaansoek laat vaar.

LEES OOK: Speurder laat vaar sy borgtogaansoek

“Hy [Wantza] was vir 22 jaar in die polisie en het nog nooit met die gereg gebots nie,” het Brown vroeër aan Paarl Post gesê.

Brown het ook aangedui dat Wantza ‘n ouer van drie kinders is, van wie een in sy sorg geplaas is.

Wantza word aangekla van moord met voorbedagte rade sowel as poging tot moord.

Hy is ‘n paar uur ná die noodlottige skietery in Moorreesburg in hegtenis geneem nadat hy glo ná die voorval van die toneel af gevlug het.

Petrus Jacobs
Petrus Jacobs (49). Foto: Argief

Volgens berigte het die skietvoorval uit ‘n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.

Paarl Post het vroeër berig dat Wantza op die dag van die voorval by Jacobs se woning opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, waarna hy op beide haar en Jacobs losgebrand het.

Volgens Netwerk24 het Wantza sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet.

Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, het dié aanlynnuusplatform ook berig.

In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, insluitend bendeverwante sake, ondersoek. Hy was ‘n sersant.

Hy was verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor en volgens die klagstaat wat die Paarl Post onder oë gehad het, woon hy ook in Kleinvlei.

Die oorlede Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk en was by die Hugenote-treinstasie in die Klein Drakenstein-pad gestasioneer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article