Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) sê hy het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat ‘n vermeende voortvlugtige Maandag (1 Desember) deur polisielede verbonde aan die Mbekweni-polisiekantoor doodgeskiet is toe hy glo ‘n beampte met ‘n graaf teen die kop geslaan het.
Die voorval het die middag omstreeks 13:30 by ‘n woning in De Vriesstraat in Wellington plaasgevind.
Hoewel Opod dit by navraag nie bevestig het nie, verstaan Paarl Post dat die verdagte deur die Mbekweni-polisie vir minstens twee sake gesoek is.
Paarl Post het ‘n plakkaat van die Mbekweni-polisie onder oë gehad waarop die gesig van die man verskyn. Twee saaknommers verskyn op die plakkaat.
LEES: Polisie skiet glo ‘voortvlugtige’ by woning in Wellington
Inwoners het Maandag ook aan die koerant bevestig dat die man op die plakkaat glo die afgelope Sondag by die woning in De Vriesstraat gewaar is.
“Hier het so rondom half twee drie polisie-vans opgedaag en die polisie het daar [by die woning] ingehardloop. Twee skote het afgegaan,” het ‘n ooggetuie Maandag vertel. Die oggetuie vertel verder dat die polisie se forensiese eenheid met ‘n graaf in ‘n sak by die woning uitgekom het.
Phaladi Shuping, ‘n Opod-woordvoerder, het by navraag bevestig dat die man deur die polisie gesoek is en dat inligting glo die polisie na die Noordkamp- informele nedersetting gelei het.
“Die verdagte het glo saam met sy vriendin in ‘n sinkhut geslaap en vir die polisie geskuil.
“Met die polisie se aankoms by die hut is die verdagte se vriendin deur twee beamptes in uniform gekonfronteer.
“Die verdagte het glo agter die deur weggekruip, en toe die polisiebeamptes hom sien, het hy een van die beamptes met ‘n graaf aangeval en hom glo op die voorkop geslaan, waartydens die beampte ‘n oop snywond opgedoen het,” het Shuping gesê.
“Die verdagte is glo geskiet en het later aan sy wonde beswyk,” het hy bygevoeg.
Volgens Shuping is paramedici na die toneel ontbied en hulle het die verdagte dood verklaar.
Die beseerde polisielid is inderhaas na die hospitaal geneem.
Shuping sê Opod het die saak oorgeneem vir ‘n geregtelike doodsondersoek.
Hy het nie gereageer op Paarl Post se vrae oor hoekom die polisie na die man gesoek het en die twee saaknommers wat op die plakkaat verskyn nie.
Shuping het ook nie uitgewei oor die identiteit en ouderdom van die man nie.





