Interne gesprekke oor die toekoms van die verlate Weltevrede-sportterrein in Wellington is tans aan die gang. Een van die voorstelle is om die bestaande muur rondom die veld te verwyder en ‘n bekostigbare behuisingsprojek op te rig.
Die voorlopige planne is Woensdag (3 Desember) op ‘n wyksvergadering in Wellington se wyk 7, wat Van Wyksvlei en Weltevrede insluit, deur die wyksraadslid Ruth Arnolds en die raad se Speaker, Koos le Roux, aan inwoners voorgelê.
Volgens Arnolds is verskeie probleme met ‘n voorlopige assessering geïdentifiseer, wat tot die verval van die sportterrein bygedra het.
“Toe ek na die planne gekyk het, het ek gesien ons sukkel met onwettige storting en bende-aktiwiteite. Die idee is om die huise reg rondom die veld te bou. Die bestaande muur word afgebreek en die inwoners van die nuwe huise gaan basies waghou oor ons veld,” het Arnolds verduidelik.
Volgens Arnolds gaan dit “ordentlike wonings” wees.
“Dit is waarvoor ek gevra het. Dis nie noodbehuising of sinkplaathokkies nie. Ordentlike paaie en geriewe sal opgerig word en ‘n speelpark sal ingerig word.”
Sy het verduidelik dat sport steeds op die veld beoefen gaan word.
“Niks word weggeneem nie. Die veld gaan bly en inwoners sal steeds toegang tot die geriewe hê.”
Le Roux het op sy beurt gesê die behuisingsprojek sal aan openbare deelname onderworpe wees.
“Die ontwikkelingsplan wat ek gesien het, het aangedui dat ons nie meer ‘n veld met ‘n muur om wil hê nie, want ons kan nie sien wat agter die muur gebeur nie.
“Ons wil ‘n ry huise rondom die veld hê, met ‘n straat aan die binnekant tussen die huise en die veld, sodat die mense wat daar huise koop en bou, eienaarskap kan neem en toesig oor die veld kan hou.
“Die raadslid was reg toe sy sê hierdie is nie ‘n projek wat oornag gaan realiseer nie. ‘n Ontwikkelaar moet nou aangewys word en die planne moet met die gemeenskap van wyk 7 bespreek en goedgekeur word,” het Le Roux by die vergadering gesê.
Volgens Le Roux kyk die munisipaliteit tans na twee opsies – bekostigbare behuising waarin die inwoners van wyk 7 eerste die geleentheid gegun sal word om te koop, en gedienste erwe rondom die veld.
LEES OOK: Drakenstein sê g’n plan om verlate Wellington-sportterrein in nabye toekoms te restoreer
Faarieg Rhoda, die Drakenstein-munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, het by navraag aan Paarl Post gesê die munisipaliteit het geen afgehandelde planne rakende die herstel of alternatiewe gebruik van die sportterrein nie.
“Interne gesprekke oor die terrein se toekoms is aan die gang, en verskeie moontlike gebruike, insluitend behuising, word ondersoek. Die ontwikkeling van enige formele plan is dus nog ver van voltooi.
“Hierdie sake bly tans onder interne oorweging. Sodra gedetailleerde konsepvoorstelle ontwikkel is en in beginsel goedkeuring van die raad ontvang het, sal ‘n formele openbaredeelnameproses volg,” verduidelik Rhoda.
Rhoda beklemtoon dat in hierdie stadium “geen besonderhede beskikbaar is rakende enige voorgestelde behuisingsprojek nie”.





