Die Drakenstein-munisipaliteit het verlede week bevestig dat hy nou in ‘n regstryd gewikkel is met die eienaar van die plaas Ou Ruigtevlei buite Wellington, waar bewoners aan hul eie genade oorgelaat is en nou al vir langer as twee dekades sonder water en ander basiese geriewe moet oorleef.
Volgens die munisipaliteit het die eienaar se regsverteenwoordigers formeel beswaar aangeteken teen die munisipaliteit se kennisgewing dat die situasie op die plaas, waar basiese menseregteskendings aan die orde van die dag is, dringend aangepak moet word.
Paarl Post het in Julie vanjaar berig dat die munisipaliteit begin het om op minstens 14 plase in Drakenstein, waar bewoners deur plaaseienaars aan hul eie genade oorgelaat is, humanitêre hulp te verleen.
LEES: ‘Gee ons net ons waardigheid terug’
Ou Ruigtevlei se eienaar is volgens een van die plaasbewoners, Katriena April, in Mei 2003 uit Suid-Afrika na sy geboorteland, Oostenryk, gedeporteer.
Hy is glo daar [in Oostenryk] aan bedrog en geldwassery skuldig bevind.
Die eienaar het volgens April destyds die grond by ‘n Suid-Afrikaner gekoop en met kanola, graan en beeste geboer.
Sedert sy deportasie het die plaas agteruit gegaan en verval toe niemand eienaarskap vat en die bedrywighede in stand hou nie.
Die boerdery het tot stilstand gekom en die kritieke infrastruktuur is oor die jare of gevandaliseer of het weens ‘n gebrek aan instandhouding verbrokkel.
Dit het ook boorgate ingesluit, wat later nie meer gebruik kon word nie.
April het in Julie vertel dat die bewoners oor die jare water van naburige plase moes steel of uit die rivier kry.
Sy het onlangs weer haar kommer teen-
oor Paarl Post uitgespreek aangesien die somer nader en riviere nou weer droog is.
Volgens Seraj Johaar het munisipale
inspekteurs terreininspeksies by Ou Ruigtevlei uitgevoer en die kontakbesonderhede van die eienaar ná aansienlike moeite verkry.
“Die munisipaliteit het toe in September vanjaar ‘n kennisgewing van nie-nakoming aan die eienaar uitgereik.
“Aan die einde van Oktober vanjaar het die eienaar se regsverteenwoordigers ‘n formele beswaar teen die kennisgewing ingedien. Gevolglik is die saak na die munisipaliteit se regsdienste-afdeling vir verdere optrede verwys,” het Johaar verduidelik.
Hy sê intussen, terwyl regsprosesse aan die gang is, sal die munisipaliteit tydelike waterdienste op die eiendom installeer.
“Hierdie dienste sal gereeld in stand gehou word en alle gepaardgaande koste sal van die eienaar verhaal word,” het Johaar bygevoeg.
Drakenstein het ook in Maart 2020 – midde-in die Covid-19-pandemie – ‘n watertenk op die plaas opgerig.
Die tenk is volgens April ná baie gesukkel slegs vir ‘n paar maande deur die munisipaliteit met skoon drinkwater gevul.
Dit staan tot vandag toe weer leeg.
Die Drakenstein- munisipale raad het op 27 Junie vanjaar eenparig gestem om dringende humanitêre hulp by 14 plase in die vallei te verleen.
‘n Munisipale afvaardiging onder die leiding van die stadsbestuurder sou, ingevolge die mosie, die plase besoek om die omvang van die hulp benodig te bepaal.
Die provinsie se hulp sou ook ingeroep word om die wetlike aspekte te fasiliteer.





