Langenhoven-laan
Die groewe loop reg langs die geel lyn verby. Foto: Chantélle Hartebeest

DM ondersoek padoppervlakte van Langenhoven-laan


Die Drakenstein-munisipaliteit gaan die toestand van ‘n gedeelte van Langenhoven-laan in die Paarl ondersoek om te bepaal of padherstelwerk nodig is.

Dit volg nadat Paarl Post onlangs navraag gedoen het oor die padoppervlakte van Langehoven-laan.

Met sommige van die wedstryde van die Krieket Wêreldbeker wat volgende jaar hier op Boland Park, reg langs

Langenhoven-laan, gespeel gaan word, wou die koerant weet of die munisipali- teit die pad, wat by sekere dele groewe het, gaan herstel.

LEES OOK: Paaie só vrot dat hulle nie kan ry

Hierdie groewe is deur ‘n inwoner onder die aandag van Paarl Post gebring. Hy meen dat die groewe voertuie se wiele kan beskadig.

“Dit is onveilig en kan tot ‘n ongeluk lei, veral wanneer die pad nat is.”

Navrae is aan die munisipaliteit gerig, waarop Louis Pienaar, die munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, gesê het dat hulle ondersoek sal instel.

“Drakenstein-munisipaliteit se paaie-afdeling sal die betrokke gedeelte van Langenhoven-laan ondersoek om die toestand van die padoppervlak en die omvang van enige nodige herstelwerk te bepaal,” sê Pienaar.

Hy verduidelik dat indien daar bevind word dat herstelwerk nodig is, sal die munisipaliteit dit volgens beskikbare begroting en hulpbronne oorweeg.

“Indien herstelwerk benodig word, sal dit geëvalueer en geprioritiseer word as deel van die munisipaliteit se bestaande padinstandhoudingsprogram, met inagneming van die beskikbare begroting en hulpbronne,” sê hy.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article