Carin Saxon (links) en Veronique Jephtas, wat die rol van Debbie-Lee in Kelders van Geheime vertolk.
Carin Saxon (links) en Veronique Jephtas, wat die rol van Debbie-Lee in Kelders van Geheime vertolk.

Hoewel sy net ‘n paar lyne en min skermtyd gehad het, glo die Paarlse opkomende aktrise Carin Saxon dat haar flitsverskyning in die immergewilde Afrikaanse telenovela Kelders van Geheime slegs die begin is van groter dinge wat vir haar voorlê.

Saxon, wat haar dae as kleuterskoolonderwyser in die Paarl deurbring, sê haar TV-buiging voel soos ‘n droom wat onverwags en vinnig vorm aangeneem het.

Sy vertel dat sy op dieselfde dag as haar oudisie vir die rol gekies is en reeds die volgende dag op stel moes wees.

Volgens haar is die advertensie vir die rol vroeg in September aan haar gestuur.

“Dit was een Woensdag in September. Ek het sommer hier by die skool vinnig ‘n oudisievideo opgeneem en ingestuur. Daardie selfde dag vra hulle toe na my skoengrootte en ek het maar aanvaar dit beteken ek is suksesvol,” vertel sy.

“Later die dag kry ek nóg ‘n oproep – hierdie keer om te sê ons skiet die toneel reeds die Donderdag. Alles het so blitsig gebeur. Ek was opgewonde, maar moet erken – my senuwees was nogal gaar.”

Saxon is dankbaar dat haar werkgewer by die kleuterskool die nuus met net soveel opgewondenheid ontvang en haar dadelik verlof toegestaan het.

Sy beskryf haar dag op die stel as “ongelooflik” en ‘n ervaring wat haar net op die vermaaklikheidsbedryf meer verlief gemaak het.

“Dit was indrukwekkend om te sien hoe akteurs voorberei; hoe sommige selfs buite kamera presies dieselfde energie en persoonlikheid behou. Dit wys net hoe toegewy hulle is.”

Die produksiespan het haar glo warm ontvang.

“Een van hulle het vir my gesê ek het ‘n stem vir teater,” sê sy trots.

Sulke terugvoer, sê sy, versterk haar vertroue en motiveer haar om groter te droom.

Saxon sê elke geleentheid – hoe klein ook al – is vir haar belangrik om haar profiel as jong aktrise op te bou en die nodige ervaring op te doen.

In 2021 het sy die dramagroep “Die Geheim tussen ons” gestig. Dit bestaan tans uit tien lede.

Die groep is een van 14 drama-ensembles wat jaarliks aan die departement van sport, kuns en kultuur se dramakompetisie deelneem.

Die kompetisie vir 2026 vind op 24 Januarie by die Baxter-teater in Kaapstad plaas – nog ‘n platform waar Saxon en haar groep hul groeiende talent ten toon kan stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article