WELLINGTON – ’n Bekende plaaslike klubrugbyspeler (23) en sy vriend (28) staan nou gesamentlik tereg op vier aanklagte van verkragting, nadat die staat drie bykomende klagtes by ’n reeds bestaande verkragtingsaak gevoeg het. Die verdagtes het vandag (4 Mei) tydens ’n stampvol en emosie-belaaide hofverskyning in die Wellington-landdroshof voorgekom.

Die beweerde verkragting spruit glo uit ‘n voorval waar ‘n student verbonde aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se Wellington-kampus verlede week in haar koshuiskamer verkrag is.

Die beskuldigdes het voorgekom vir hul skedule ses borgaansoek wat die staat, by monde van Melissa van der Byl as staatsaanklaer, teenstaan.

Die saak is tot Dinsdag (5 Mei) uitgestel nadat die verdediging, Elton Rochert van Rohert Attorneys in Kaapstad, aangedui het dat hulle meer tyd benodig om voor te berei, aangesien die addisionele aanklagte eers op die dag van die hofverskyning aan hulle bekend gemaak is.

Rochert wou geen kommentaar aan die media buite die hof lewer nie.

Die hofsaal was gepak met beide die slagoffer (21) asook die twee verdagtes se families wat sigbaar emosioneel was tydens die hofverrigtinge.

Ondersteuners van die Boland-rugbyklub waaraan die jongste verdagte verbonde is as ‘n voormalige rugbyspeler voordat hy homself by ‘n ander rugbyklub in Limpopo sou vestig, was ook by die hof.

Die polisie se eenheid vir openbare orde (Pops) was ook daar om te verseker hofverrigtinge word nie ontwrig nie.

SAPS
Die beweerde verkragting spruit glo uit ‘n voorval waar ‘n student verlede week in haar koshuiskamer verkrag is. Foto: Argief/ Jana Scheepers

Volgens Billy Claasen, uitvoerende direkteur van die Rural and Farmworkers Development Organisation, wat die familie van die slagoffer bystaan en ook in die hof was, is die voorval nie net vir die slagoffer en haar familie traumaties nie, maar ook vir ander KSUT-studente in Wellington.

Claasen het ook sosiale media gebruikers aangeraai om meer sensitief te wees met hul kommentare oor die saak.

Logan Maistry, woordvoerder vir die Departement van Korrektiewe Dienste, het bevestig dat die twee mans in die Allandale-gevangenis aangehou word.

LEES OOK: Plaaslike klubrugbyspeler in Wellington-hof ná beweerde verkragting

Paarl Post het verlede week navraag gedoen by die Boland-klub waar die 23-jarige speler vir ‘n laaste keer sou uitdraf voordat hy homself by ‘n ander klub sou vestig. Die klub se voorsitter het aangedui dat die klub geen kommentaar wil lewer nie en het die koerant na die beskuldigde se regsverteenwoordiger verwys.

Die koerant het ook uitgereik na die KSUT, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang word.

Die media het ná die hofverskyning gevra om die klagstaat te besigtig, maar was nie toegelaat nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post Medical Guide – 30 April 2026
    Credit: Heleen Smit Credit: Heleen Smit

Gift this article