Die polisiespeurder Wayne Wantza (42) het vandag (4 Februarie) in die landdroshof in Wellington verskyn, waar die hof aangekondig het dat hy vir psigiatriese waarneming na Paarl Hospitaal verwys sal word.
Wantza sal op 24 Februarie by dié hospitaal aanmeld waarna ‘n volgende hofdatum ná die volle waarneming geskeduleer sal word, volgens sy regsverteenwoordiger, Andre Brown van Andre Brown Attorneys.
Brown het ook by die hofverrigtinge gesê dat die verdediging nie sal voortgaan met die artikel 78-verslag waarvoor die verdediging op ‘n vorige hofverskyning aansoek gedoen het.
‘n Artikel 78-verslag word uitgereik deur ‘n private mediese dokter wat aangestel word deur die verdediging wat die geestestoestand van die verdagte ten tyde van die misdaad uitstippel.
Wantza het na bewering op 26 Julie 2025 verskeie skote in Schoongezichtstraat, Wellington, afgevuur waarin sy eksmeisie, Elzaan Gallant, ernstig gewond is en haar nuwe kêrel, Petrus Jacobs (49), dood is.

Gallant is glo sewe keer deur Wantza geskiet, vyf keer in haar bors en een keer in elke arm, terwyl Jacobs weens een koeël in die bors gesterf het met die koeël wat glo regdeur sy ruggraat is.
Wantza word aangekla van moord met voorbedagte rade sowel as poging tot moord. Hy is ‘n paar uur ná die noodlottige skietery in Moorreesburg in hegtenis geneem nadat hy glo ná die voorval van die toneel af gevlug het.
LEES OOK: Speurder dalk geëvalueer; saak uitgestel
Volgens berigte het die skietvoorval uit ‘n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.
Paarl Post het vroeër berig dat Wantza op die dag van die voorval by ‘n woning opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, voor hy op haar en Jacobs losgebrand het.
Wantza het sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet. Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte.

In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, insluitend bendeverwante sake, ondersoek.
Hy was ‘n sersant en verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor en volgens die klagstaat het hy ook in Kleinvlei gewoon
Die oorlede Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk.





