Wemmershoek-brand
Altesaam 17 000 ha is reeds in die brand vernietig wat op 7 Januarie buite Franschhoek aangemeld is. Foto: Kaapse-wynlanddistriksmunisipaliteit

Die Drakenstein is vir die afgelope paar dae in ‘n digte rookwolk gehul soos die brand wat in Wemmershoek buite Franschhoek op 7 Januarie begin het steeds verwoesting saai. Rolspelers het vandag (12 Januarie) by ‘n bevelsentrum op die terrein van die Drakenstein-gevangenis vergader om die omvang van die brand te bespreek asook watter stappe gevolg word om dit te bestry.

Onder andere Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, dr. Elna von Schlicht, burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, Stephen Korabie, burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit en Jeremy Fasser, burgemeester van die Stellenbosch-munisipaliteit, was teenwoordig saam met CapeNature asook die Winelands Fire Protection Association (WFPA) wat deel vorm van die taakspan wat byeengeroep is om die brand te bestuur.

Wemmershoek-brand
Stephen Korabie (burgemeester van die Drakenstein-munisipaliteit), Anton Bredell (Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning), en Dr Elna von Schlicht (burgemeester van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit). Foto: Jana Scheepers

Volgens Dale Nortjé, bestuurder van die WFPA is die brand bo die Langrug- informele nedersetting in Franschhoek omstreeks 16:00 op 7 Januarie aangemeld waarna dit na dele van Franschhoek en Wemmershoek versprei het.

Nortjé het gesê die brand is heel waarskynlik deur mense veroorsaak, maar dit kon nog nie vasgestel word of dit opsetlik was of nie.

Altesaam 17 000 ha is reeds in die brand vernietig wat strek oor meer as 19 km soos die kraai vlieg.

Die brand het na die Du Toitskloof-berge beweeg waar dit sigbaar is in Rawsonville en van die Du Toitskloofpas. Dit het ook na Bainskloofpas versprei.

Volgens Nortjé wou die WFPA ‘n “uitbrand”-metode volg om plantegroei na aan die brand self op ‘n beheerde wyse af te brand sodat dit nie die brand vererger nie, maar die wind was te sterk. Die afgelope Vrydag het die brand versprei en moes die Voortrekkerkamp in Wemmershoek met ongeveer 100 leerders in, ontruim word. Niemand is beseer nie.

Hy het bevestig dat geen huise sover in die slag gebly het nie, maar dat daar wesenlike skade is aan ander infrastruktuur.

Een voorbeeld hiervan is die Chamonix-gasteplaas in Uitkykstraat wie se gastehuis die afgelope naweek afgebrand het. Luidens Chamonix se webtuiste sal die gastehuis nie vir die “afsienbare toekoms weer oopmaak nie”.

Die wynproelokaal en Arkeste Restaurant is wel oop en is nie deur die brand geraak nie.

Wemmershoek-brand
Die gastehuis op die Chamonix-gasteplaas het die afgelope naweek weens die brand in Franschhoek en Wemmoershoek, afgebrand. Foto: Argief

Paarl Post het vroeër berig die Avondale-wynplaas het na bewering ook aansienlike skade aan wingerde en natuurlike plantegroei aangemeld, maar het op sosiale media aangekondig die plaas is soos gewoonlik oop vir besoekers en dat die infrastruktuur en vee – insluitend 30 perde – veilig is.

Plase soos Helderstroom, Hartebeestkraal op die R301, Afsaal, Rustig en Wildepaardenjacht is ook in die brand se pad vasgevang.

Nortjé het bevestig dat die brand tans in ’n bergagtige gebied woed, wat die brandbestrydingspogings bemoeilik. Nietemin is drie helikopters en ongeveer vyf brandbestrydingspanne tans op die toneel. Hierdie spanne sluit twee van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), drie van Working op Fire en een van Volunteer Wildfire Services, asook ’n verdere span van ’n private instansie in.

LEES OOK: Franschhoek, omliggende gebiede sonder krag weens voortslepende brande

Volgens Bredell het die Wes-Kaapse regering reeds miljoene rande aan die brand bestee, wat ’n beduidende impak op ’n reeds beperkte begroting het.

Hy het verduidelik dat die span wat verantwoordelik is om die brand te bestuur dus moet besluit hoe om die beperkte hulpbronne te benut.

Volgens Bredell word droë en warm toestande vir die volgende drie tot vier maande voorspel, wat beteken dat die brandseisoen verleng sal moet word. Hiermee saam het damvlakke oor die provinsie heen ook reeds aansienlik gedaal.

CapeNature het in ‘n verklaring die publiek herinner dat wilde diere wat deur brande verplaas of geraak word nie aangeraak, gevang, gevoer of verwyder mag word nie en om CapeNature of die naaste dierebeskermingsvereniging te skakel.

“Hoewel diere beseer of gedisoriënteer mag voorkom, kan baie wegbeweeg en herstel sonder ingryping. Onnodige hantering kan ernstige stres, besering of dood veroorsaak, en kan mense en wild in gevaar stel.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article