Die ACVV-Silwerkruin se tehuis vir bejaardes in Wellington het die viering van internasionale week van ouer persone op ‘n hoogtepunt ingelei met vroklike interaktiewe aktiwiteite, insluitend ‘n “optog” deur Wellington se strate die afgelope Dinsdag (30 September).
Altesaam 61 uit die 130 inwoners het aan die staptog deelgeneem, sê Marlene Muller, die tehuis se bestuurder.
Sy vertel dat die bejaarde inwoners, van hul familielede, personeel en vrywilligers die strate vol geesdrif ingevaar het, met liedjies, plakkate en selfs kleurvolle hoede op die sonnige Dinsdagoggend om die boodskap van respek en waardering vir ouer mense te beklemtoon.
Paarl Post is ook die afgelope Maandag uitgenooi om ‘n uitstalling van pragtige handwerk wat deur die inwoners self ontwerp en gemaak is, by te woon. Die uitstalling het in die tehuis se voorportaal plaasgevind.

Volgens Muller is die idee agter die week se aktiwiteite om te beklemtoon dat dié tehuis ook ‘n “plek van kreatiwiteit” is.
“Baie keer het mense mos maar hierdie voorgestelde idee van ‘n tehuis. Daar is dit doodstil, daar gaan niks aan nie.
“Ons wil hierdie week wys dat ons mense nog propvol energie en vol kreatiwiteit is.
“Ons het dit gesien met die pragtige handwerk wat Maandag uitgestal is, en ons het dit vanoggend weer gesien toe meer as die helfte van die inwo- ners vir die uitstappie opgedaag het.”
Muller sê die res van die week is gevul met allerhande aktiwiteite.
“Daar is breinkrag- en flinkdink- speletjies wat in groepe gespeel gaan word. Ons gaan juis die speletjies in groepe speel as ‘n herinnering aan inwoners dat ons hier is vir mekaar.
“Daar is ook Vrydag sittende boeresport. Dit is aangepas volgens wat ons inwoners in staat is om te kan doen, maar beloof om steeds pret te wees.
“Dit is nie altyd maklik om al die inwoners te kry om aan aktiwiteite deel te neem nie en daarom is ons hoop dat die week se verrigtinge sal dien as ‘n aansporing. Ons wil hê die energieke inwoners se positiwiteit moet ander aanspoor.”






You must be logged in to post a comment.