Dr. Zandri Snyman (33), ‘n veearts verbonde aan die Wellington-dierekliniek, het skoonskip gemaak by vanjaar se nasionale saalperdkampioenskap op die Bloemskou in Bloemfontein.
Sy het drie verskillende saalperde gery – twee wat sy nooit van te vore gery het nie en op die dag mee moes deelneem.
Snyman is oorspronklik van Victoria-Wes in die Karoo waar sy op ‘n plaas grootgeword en leer perd ry het, maar het in 2011 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl gematrikuleer.
In ’n onderhoud met Paarl Post het Snyman vertel dat sy reeds op agtjarige ouderdom haar eerste Bloemskou bygewoon het, nadat sy op ses begin perdry het. Sedertdien keer sy jaarliks terug na die skou om haar passie vir saalperde uit te leef.
Snyman, wat as perdeveearts spesialiseer het met vyf blou linte (eerste plekke) by die Bloemskou, wat tot 2 Mei duur, weggestap.
Sy het die afgelope Woensdag (22 April) op Royal Design, ’n perd van die Smith-familie van die Drakenstein-vallei, die country-plesierperdtitel gewen nadat een van die Juhanha-stalle waar die familie se Amerikaanse saalperde gehuisves word, se ruiters nie self kon ry nie.
Sy het ook die kampioenskapstitel as show hack op dieselfde perd verower, en die volgende dag (23 April) die country-plesier-dryfperdtitel gewen.
Royal Design het uiteindelik drie van Snyman se vyf blou linte opgelewer.
Reeds die afgelope Maandag (20 April) het Snyman met haar eie Amerikaanse saalperd, Holy Smoke, die vyfgangkampioenskap vir vroulike ruiters gewen. Op dieselfde dag het sy ook op The Last Contender, nóg ’n perd van die Smith-familie, die kampioenskap vir ’n driegang-amateurperd met natuurlike maanhare en stert verower.
Opmerklik is dat Snyman voorheen nog nooit Royal Design óf The Last Contender gery het nie en eers die dag voor die kampioenskappe vinnig met hulle kennis gemaak het.
Sy het verduidelik dat sy nog haar “hele lewe lank” lief was vir perde en perdry omdat hulle intelligent is en ‘n mooi hart het.
Snyman besit twee saalperde – Holy Smoke, wat vanjaar sukses behaal het, en Hocus Pocus. Albei word gestal by die Tears and Roses-stalle in die Paarl, wat aan die bekende saalperdafrigter Junior Hugo behoort.
LEES OOK: Saalperdstoet in die Paarl is bobaas
Hugo het self ook by vanjaar se Bloemskou uitgeblink en op sy perd, Mr Inferno, en die kampioen-driegangklas vir manlike ruiters gewen.
Verder het Kira le Roux (9) van die Paarl en ‘n leerder aan die Laerskool Paarl Gimnasium die kampioenskap vir ‘n plesierperd (stap en draf) vir kinderruiters onder agt jaar oud op haar saalperd, Gallio’s Finder Street, gewen.
Kira se ma, Mieke het ook die driegangkampioenskap vir ‘n plesierperd met ruiters wat 40 jaar en ouer is, gewen.
Kira en haar ma se perde word gestal by Adriaan Odendaal wat die De Bosch-stalle in Stellenbosch besit.





