Bainskloofpas
Vrywilligers verwyder puin op die Darling-brug. Foto: Verskaf/ Wynand Goosen

Ná dae van swaar reën, oorstromings en beskadigde infrastruktuur in die Bainskloofpas het grondeienaars self begin om dele van die pas skoon te maak nadat hulle van die buitewêreld afgesny is.

Wynand Goosen, eienaar van Skaam Cabin in die pas, het gesê hy het verlede Sondag (10 Mei) aanvanklik na die eiendom gegaan om seker te maak alles is in orde, maar is toe weens die gure weerstoestande vasgekeer nadat die pas onbruikbaar geraak het.

Volgens Wynand was die skoonmaakwerk ’n proses wat oor verskeie dae plaasgevind het en het die vrywilligers ingespring omdat die plaaslike owerheid slegs die pas gesluit het en nie dadelik begin het met opruimingswerk nie.

Hy het verduidelik dat hyself, die Calabash Bush Pub wat in die pas geleë is en nog ’n grondeienaar verlede Woensdag (13 Mei) begin planne beraam het om die Darling-brug naby die Drakenskloof private reservaat oop te kry sodat inwoners weer deur die pas kon beweeg.

Die brug is aan die Wolseley-kant van die pas geleë en, weens die brug wat weggespoel het asook puin wat op ander dele van die pas versprei was, was die pas aanvanklik geheel en al onbruikbaar. Die pas is tans vanaf Wellington toeganklik, maar die Darlingbrug het heeltemal ineengestort en kan glad nie gebruik word nie. Die pas bly dus gesluit vir verkeer.

Volgens hom het hulle by Drakenskloof aangeklop om ‘n trekker te leen om die puin te verwyder.

“Ons moes ongeveer 100 meter skoonmaak, maar die takke, drade en rommel was só ineengevleg dat die laaibak nie opgewasse was vir die werk nie. Ek en [‘n werknemer by Drakenskloof] het toe ’n ander vurk-tipe impliment gaan soek wat ons voor op die trekker kon monteer, en ons het dit maar saam uitgefigure.”

Volgens hom het die aangepaste toerusting die werk aansienlik vergemaklik

“Ná ongeveer vier ure se werk was die brug uiteindelik skoon genoeg dat voertuie een op ’n slag kon deurgaan.”

Goosen het daarna self deur die pas tot in Wellington gery om die toestand van die pad te beoordeel.

“Op verskeie plekke was daar nog rotse en afspoelings van klip, takke, sand en bome. Op een plek was die padoppervlak ook beskadig weens uitkalwing onder die teer.”

kokpo
Wynand Goosen sleep ‘n groot stuk rots uit die pas. Skermgreep: Verskaf/ Wynand Goosen

Hy en sy vrou het Donderdagoggend (14 Mei) teruggekeer om hul gaste-akkommodasie skoon te maak aangesien hul werknemers nie van Wolseley se kant af kon deurkom nie.

“Dit was teleurstellend om te sien dat daar steeds geen amptelike werkers was wat enige poging aangewend het om die gemeenskap te help of die pad veiliger te maak nie.”

Die egpaar het toe self begin om klippe uit die padoppervlak te verwyder.

“Ek en my vrou het toe self teen die pas afgewerk en die klippe uit die padoppervlak begin verwyder. Op een plek het daar ’n groot rots op ’n baie gevaarlike draai gelê. Dit sou byna vir seker veroorsaak het dat iemand oor die afgrond kon gaan as hulle moes uitswaai om dit te vermy. Ek het dit uiteindelik met my voertuig uit die pad gesleep.”

pkopokp
Die brug aan Wolseley se kant van die pas is tans ontoegangklik. Foto: Facebook

Volgens Goosen het hy die afgelope Vrydag (15 Mei) weer deur die pas beweeg om verdere takke en bome uit die pad te verwyder.

Goosen sê hy en sy vrou, Bernadine Goosen, is albei professionele mense en bestuur Skaam Cabin as hul onderneming.

LEES OOK: Traffic movement through N1, Du Toitskloof and Huguenot Tunnel improve

“My vrou doen menslike hulbronne-konsultasie vir wynplase, en ek was voorheen ’n aandelemakelaar en bankier. Deesdae fokus ek voltyds op Skaam Cabin en die uitbou van die handelsmerk.”

Die egpaar besit die eiendom reeds vyf jaar, hoewel die cabin eers die afgelope jaar operasioneel geraak het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article