Inwoners van die Paarlse middedorp is die afgelope Saterdagoggend (27 September) uit hul slaap geruk toe skote vroeg die oggend in die Paarlse middedorp naby Rembrandt Mall geklap het.
Paarl Post het vroeër berig dat die skietery in Lady Greystraat plaasgevind het, soos deur sers. Wesley Twigg, ‘n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, bevestig is.
Grant Johnson, eienaar van die Cellars- nagklub, hou egter voet by stuk dat dié skietery in Bergrivierstraat plaasgevind het.
Volgens Twigg het die skietvoorval omstreeks 02:30 in Lady Greystraat plaasgevind en ondersoek die Paarl-polisie ‘n saak van poging tot moord.
Twigg het verduidelik dat daar een slagoffer was – ‘n man wat geskiet is. Die man se ouderdom is onbekend en hy is glo in die skouer geskiet en is na ‘n hospitaal geneem.
Twee verdagtes, onderskeidelik 25 en 38 jaar oud, is in hegtenis geneem en het die afgelope Maandag (29 September) in die Paarl-landdroshof verskyn.
Volgens ‘n verteenwoordiger van die onderneming waarbuite die skietery plaasgevind het, is geen vuurwapens die onderneming binnegebring nie, en het die onderneming se sekuriteit ‘n “paar mense uit die [onderneming] gesit wat ‘n bietjie oproerig was”.
“Daar was ‘n woordewisseling in die pad en ons kan nie bevestig of dit dieselfde mense was wat in die [onderneming] was nie. Toe ons sekuriteit die skote hoor, het hulle onmiddellik ons deure gesluit en ons het die polisie gebel om te kyk wat in die pad aangaan,” sê die verteenwoordiger.
Volgens ‘n betroubare bron wat in die omgewing naby Rembrandt Mall woon, het sy Saterdagoggend vroeg wakker geskrik en sowat agt geweerskote getel wat afgevuur is. Die getal skote kon nie bevestig word nie.
Volgens ‘n anonieme werknemer van Rembrandt Mall het die winkelsentrum se sekuriteit ‘n gewonde man opgemerk, klaarblyklik met ‘n skietwond, aangesien hy ‘n bloedspoor agtergelaat het. Die werknemer het verder aangedui dat die slagoffer by ‘n wegneemete-pizzaplek geskuil het, waar nooddienste hom weggeneem het.
Die slagoffer blyk dieselfde persoon te wees wat in Bergrivierstraat geskiet is. Die motief van die skietery is steeds onbekend.





