Wayne Wantza (42). Foto: Jana Scheepers

Die polisiespeurder Wayne Wantza (42), wat na bewering op 26 Julie verskeie skote in Schoongezichtstraat, Wellington, afgevuur het, het vandag (26 September) in die landdroshof in Wellington verskyn. In die skietery is sy eksmeisie, Elzaan Gallant, ernstig gewond en haar nuwe kêrel, Petrus Jacobs (49), is dood.

Die staatsaanklaer, wie se naam vir veiligheidsredes nie genoem mag word nie, het aangevoer dat die staat wag op die artikel 78-verslag waarvoor die verdediging aansoek gedoen het.

‘n Artikel 78-verslag word uitgereik deur ‘n private mediese dokter wat aangestel word deur die verdediging wat die geestestoestand van die verdagte ten tyde van die misdaad uitstippel.

Die staat mag hierdie bevindinge bevraagteken deur sy eie deskundiges aan te stel, volgens die staatsaanklaer.

Wantza se regsverteenwoordiger, Andre Brown van Andre Brown Attorneys, het aangedui dat ’n aansoek beplan word om te argumenteer dat die beskuldigde tydens die beweerde misdrywe nie strafregtelik toerekeningsvatbaar was nie.

Volgens die staatsaanklaer is daar reeds toestemming van die Wes-Kaapse kantoor van die direkteur van openbare vervolgings verkry vir die moontlike pleitooreenkoms.

Wayne Wantza (42). Foto: Facebook

Die saak is voorlopig tot 6 November uitgestel.

Gallant is glo sewe keer deur Wantza geskiet, vyf keer in haar bors en een keer in elke arm, volgens Netwerk24, terwyl Jacobs weens een koeël in die bors gesterf het met die koeël wat glo regdeur sy ruggraat is, het dit vandag in die hof uitgekom.

Wantza het by ‘n vorige hofverskyning sy borgtogaansoek laat vaar.

Die hof was weer vandag gepak met beide familie en vriende van Wantza, Jacobs en Gallant.

Petrus Jacobs (49). Foto: Lower Paarl Blues RFC/ Facebook

“Hy [Wantza] was vir 22 jaar in die polisie en het nog nooit met die gereg gebots nie,” het Brown tydens ‘n vorige geleentheid aan Paarl Post gesê.

Brown het ook aangedui dat Wantza ‘n enkelouer van drie kinders is, van wie een in sy sorg geplaas is.

Wantza word aangekla van moord met voorbedagte rade sowel as poging tot moord.

Hy is ‘n paar uur ná die noodlottige skietery in Moorreesburg in hegtenis geneem nadat hy glo ná die voorval van die toneel af gevlug het.

Volgens berigte het die skietvoorval uit ‘n beweerde liefdesdriehoek ontstaan.

Elzaan Gallant. Foto: Elzaan Gallant/ LinkedIn

Paarl Post het vroeër berig dat Wantza op die dag van die voorval by Jacobs se woning opgedaag en Gallant, met wie hy voorheen ‘n verhouding gehad het, genader het, waarna hy op beide haar en Jacobs losgebrand het.

Volgens Netwerk24 het Wantza sy persoonlike wapen, ‘n 9 mm-Glock-pistool, gebruik om op Jacobs, Gallant en ‘n derde slagoffer, haar vriendin, te skiet.

Gallant is glo van Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte, het Netwerk24 ook berig.

In ‘n vorige hofverskyning het dit aan die lig gekom dat Wantza as speurder ernstige en gewelddadige misdade, insluitend bendeverwante sake, ondersoek en as sersant gedien het. Hy was verbonde aan die Kleinvlei-polisiekantoor, soos berig deur Netwerk24.

Volgens die klagstaat wat die Paarl Post onder oë gehad het, woon hy ook in Kleinvlei.

Die oorlede Jacobs, oorspronklik van die Paarl, het by Metrorail in die Paarl gewerk en was by die Hugenote-treinstasie in die Klein Drakenstein-pad gestasioneer.

Paarl Post het by ‘n vorige geleentheid na die Jacobs-familie uitgereik, maar hulle het aangedui dat hulle nie met die media wil praat nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article