Lester Caine (24) Foto: Facebook

Vir Jasmine Caine-Williams (47) van die Paarl voel dit asof die lewe haar telkens met ondraaglike pyn tref. Haar enigste oorblywende kind, Lester Caine (24), is die afgelope Saterdagaand (6 September) om ongeveer 23:30 in Klapmuts met ‘n mes in die hart gesteek en dood agtergelaat.

Jasmine se seer is besonder groot omdat sy reeds soveel geliefdes aan die dood afgestaan het.

In 2015 het sy in een maand – Desember – haar tweejarige kleinkind weens verdrinking verloor én toe haar eerste man, Hasie. ‘n Paar jaar later in 2018 het haar seun Ivan (22), ook die pa van haar oorlede kleinkind, aan tuberkulose (TB) gesterf.

Twee van haar susters, Charlotte (2018) en Jacoba (2019), is toe ook oorlede – Charlotte ná ‘n kort siekte en Jacoba ook weens tuberkulose.

Volgens sers. Madilyn Dombas, woordvoerder van die Klapmuts-polisie, is Caine in die bors gesteek deur ‘n onbekende hoeveelheid onbekende mans. Caine se vriend, Adoline Fortuin (24), is ook in die linkerhand gesteek en is na Stellenbosch-hospitaal geneem vir mediese behandeling.

Die voorval het glo in Agoniastraat plaasgevind “waar die verdagtes die slagoffers sonder enige rede gekonfronteer en begin aanval het,” volgens Dombas.

Lester, wat in 2020 aan die Hoërskool Kylemore in Stellenbosch gematrikuleer het, het as ‘n tuinaanlegger in die gebied gewerk en verskeie klante in die gemeenskap bedien. Buiten sy ma laat hy sy meisie, Kelly Hendricks, en hul dogtertjie, wat in November vier jaar oud word, agter.

Hy is oorspronklik van die Paarl, maar het die afgelope 10 jaar in Klapmuts gewoon.

Volgens Hendricks was Lester saam met ‘n vriend ten tyde van die noodlottige voorval.

Volgens Jasmine het sy tans “diep, diep seer,” maar is sy “dankbaar vir die Here” wat haar deur die moeilike tye dra.

Jasmine en Hendricks sê hulle sal Lester onthou as ‘n “lieflike, stil en teruggetrokke mens”.

“Hy was nie ‘n moeilike mens nie,” het hulle gesê. Hy was volgens hulle ook nie by bendeaktiwiteite betrokke nie.

Lester word Saterdag (13 September) om 10:00 by die Hervormde Ou Apostoliese Kerk in die Paarl ter ruste gelê.

Volgens Dombas word een saak van moord en diefstal deur die Klapmuts-polisie ondersoek.

Nog niemand is inhegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article