Die gemoedere het Maandag (4 Augustus) hoog geloop in die Paarl-landdroshof toe gemeenskapslede hul ongelukkigheid geopper het ná een van die beskuldigdes in die Chanelle Plaatjies-moordsaak in die hof staan en vloek het.
Die drie verdagtes Keaton Johnson (19), Bradley Mamani (25) en Theodore Qatha (31) het weer vlugtig in die hof verskyn waar die saak tot 16 Oktober uitgestel is.
Johnson, wie glo met Chanelle in ‘n romantiese verhouding was, het Maandag duidelik gefrustreerd die beskuldidge bank betree.
Hy het minstens twee keer gevloek nadat die hof die saak tot Oktober uitgestel het.
Chanelle se familie en gemeenskapslede het ná die verskyning daarop aangedring dat Johnson se gedrag in die hof aangespreek word. Hulle is na die senior staatsaanklaer verwys.
Volgens die staat beskik die moordsaak aan prima facie eienskappe om na die Wes-Kaapse hooggeregshof verwys te word.
Daar is nog uitstaande verslae voordat die kantoor van openbare vervolging die finale beslissing kan maak oor of die saak hooggeregshof toe gaan, het die staat Maandag aangevoer.

Paarl Post het voorheen berig dat die Concerned Drakenstein Residents (CDR)- groep ook gevra het dat die hooggeregshof vir dié saak in die Paarl moet kom sit.
LEES: Groep vra dat Chanelle Plaatjies-moordsaak na hoggeregshof verwys word
Chanelle se verminkte lyk is op 2 Junie in ‘n vlak graf in ‘n beboste gebied langs die Allandale-gevangenis in die Paarl gevind.
Al drie beskuldigdes bly in aanhouding tot hul volgende verskyning op 16 Oktober.
- Lees meer oor Maandag se verskyning in hierdie week se Paarl Post.






You must be logged in to post a comment.