Dani Villé, ‘n veelsydige en talentvolle sangeres en liedjieskrywer van die Paarl, het onlangs haar nuutste enkelsnit, “Jy’s Okay”, vrygestel – ‘n liedjie wat tydens ‘n musiekreis na Berlyn, Duitsland, ontstaan het.
Dani, wat as voltydse musikant floreer, tree gereeld by feeste, troues en korporatiewe gesellighede op. Sy het in 2023 vir drie maande na Berlyn gereis om haar musiek met internasionale gehore te deel. Hierdie ervaring het ‘n groot invloed op haar kreatiewe proses gehad.
“Ek het ongelooflike nuwe musiekervarings in Berlyn beleef en baie mense in die internasionale musiekbedryf ontmoet,” vertel sy. “Ek het egter my kêrel en my mense in Suid-Afrika vreeslik gemis. Ná ‘n maand het ek gewonder of ek die regte ding doen. Dit was toe dat hy my motiveer het om deur te druk.”
Hierdie emosionele reis het gelei tot die ontstaan van “Jy’s Okay”, ‘n liefdesliedjie geïnspireer deur Dani se verhouding en die verlange na haar geliefdes.
Die liedjie is op 11 Julie uitgereik en is die eerste van verskeie nuwe werke wat sy gedurende haar tyd in Berlyn geskryf het.
“Die opname-ervaring was ‘n absolute fees,” sê Dani. “Ek het saam met Olly van Schalkwyk van Ollyvans Studios gewerk. Ons het ‘n klank probeer vasvang wat die gevoel oordra waarmee ek die liedjie geskryf het – ‘n akoestiese popklank met genoeg ritme om mee te voel, maar ook ruimte vir emosie.”
Dani het haar musiekloopbaan amptelik met haar debuut-EP “Dani Villé” in 2020 begin, wat destyds deur Universal Musiek uitgereik is. Liedjies soos
“Verdwaal”, “Twee keer”, “Ek soek net vir jou” en “As ek sing” het haar aanvanklik in die kollig geplaas.
Daarna het sy haar loopbaan as onafhanklike kunstenaar voortgesit en haar musiek is op platforms soos Spotify, iTunes en Deezer beskikbaar.
Sedertdien het sy nuwe enkelsnitte uitgereik, insluitend “Blinkers”,
“Alles”, “Liefdeskind” en “Ruled by You”. Tussen optredes en nuwe vrystellings het Dani ook in haar musiekonderneming belê: In 2020 het sy ‘n driejaar-diploma in musiekbesigheid aan die Campus of Performing Arts in Kaapstad voltooi.
“Ek het geleer dat talent en goeie liedjies nie genoeg is nie. Dit verg harde werk en beplanning om ‘n volhoubare musiekloopbaan te bou,” sê sy.
Musiek loop ook in die familie. Dani se gesin besit ‘n buitelug-musiekteater waar hulle in die somer konserte aanbied. Sy het al die verhoog met top- Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Spoegwolf, Refentse, Elvis Blue, Kahn Morbee, Elandré, Riaan Benadé en vele meer gedeel.
Dani Villé se musikale reis gaan danksy ‘n vol optredekalender en verskeie nuwe liedjies wat binnekort vrygestel word, steeds van krag tot krag.
• Dani tree op 26 Julie om 19:00 by Furniss Café in die Paarl op.
Kaartjies kos R150 en is by Quicket te koop. Sondag (27 Julie) tree sy by die Delheim-wynlandgoed op. Kaartjies daarvoor is ook by Quicket te koop.





