Paarl-polisie het Saterdag (22 November) vyf swendelaars gearresteer. Foto: Ter Illustrasie
Paarl-polisie het Saterdag (22 November) vyf swendelaars gearresteer. Foto: Ter Illustrasie Credit: Argief

Swendelaars wat daarop uit is om mense uit hul geld te bedrieg het Saterdagmiddag (22 November) hulself vasgeloop toe die Paarl-polisie met die ondersteuning van die gemeenskap vyf verdagtes vasgetrek het.

Volgens ‘n lid van die veiligheidstrukture in die Paarl het die verdagtes na bewering die toeriste genader om parkeergeld te betaal.

“Die vrou is gevra om haar pin [by die kaartmasjien] in te sit. Sy het haar pin ingesit en het onraad vermoed toe hulle (die verdagtes) haar kaart vat en weghardloop. Sy het onmiddelik die kaart gestop,” sê die lid wat om veiligheidsredes nie identifiseer wil word nie.

Toeriste word gereeld geteiken

Die insident het buite ‘n restaurant in die noorde van die Paarl gebeur.

‘n Persoon in die gebied het te hore gekom van die toeris se penarie en die nuus is onmiddellik na Paarl se veiligheidsnetwerk oorgedra. ‘n Beskrywing van die wegkomvoertuig en die verdagtes is ook gedeel. Kort daarna het lede van die gemeenskap, wat deel vorm van die netwerk, die voertuig met die verdagtes by Paarl Mall opgemerk.

“Die gemeenskap het die voertuig agtervolg en polisie het by Food Lover’s Market die voertuig vasgedruk en die vyf manne gearresteer. In hul besit is gekry drie kaartmasjiene, twee stel vervalsde nommerplate en hulle het ook die toeriste bordjie gekry wat die scammers om hulle nek hang om die toeriste te flous, asof hulle amptelike toeristebeamptes is.

“Onder die verdagtes is ‘n bekende scammer wat R2 miljoen geneem het by toeriste in die Paarl in 2023. Ons jaag nou al die ouens vyf jaar rond en nie een van hulle was ooit tronk toe nie. Hulle word baie moeilik vervolg as gevolg van die moeilikheidsgraad van die misdaad wat hulle pleeg, maar die gemeenskappe het nou moeg geraak daarvoor. Die gemeenskappe en al die strukture trek nou saam in die Paarl.

“So, die scammers is nie meer welkom in die Paarl nie – dis die boodskap. Dis die Paarlse gemeenskappe wat nou besluit het om saam met die polisie te werk en hande vat.”

Polisie se reaksie word geprys

Die bron het Paarl-polisie se misdaadvoorkomingslede geprys vir hul puik diens, asook die gemeenskap wat die polisie in hul taak ondersteun het.

“Hulle scam gereeld toeriste in die Paarl. Wat hulle doen is hulle stap saam met die toeris na die OTM toe en dan kyk hulle hoe die toeris die pin insit en dan vat hulle die kaart van die toeris. Die ander manier hoe hulle dit doen is, hulle het ‘n klein keypad en hulle sê dan vir die toeris om hulle kaarte te gee vir die parkeer geld van R20 of so. Wanneer die toeris die kaart gee dan kyk hulle die pin wat die toeris insit op die keypad by hulle en dan vat hulle die toeris se kaart en dan hardloop hulle weg en spring in hul wegkom motor,” verduidelik die bron verder.

“Hulle het ook toerismeburo-bordjies op hulle bors en om hulle nekke gehad vandag. Hulle het gemaak asof hulle vir die toerismeburo werk. Hulle trek ook sekuriteitsklere aan en daar staan gewoonlik ‘security’ op hulle hoedjies.”

Kapt. Basil Seekoei, ‘n polisiewoordvoerder vir die Kaapse Wynland-polisiedistrik, het die insident bevestig.

“Vyf verdagtes is omstreeks 13:45 gearresteer. Hulle is tussen die ouderdomme van 32 jaar en 45 jaar en is aangekla vir bedrog.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article