Lila Doyer (16), ‘n gr. 11-leerder van die Hoërskool Paarl Gimnasium, is gekies as een van slegs twee Suid-Afrikaanse ambassadeurs wat vanjaar aan die gesogte United Space School-program by die National Aeronautics and Space Administration (Nasa) in Houston, Texas, gaan deelneem.
Sy sal Suid-Afrika van einde Julie tot vroeg Augustus by die internasionale program verteenwoordig, waar 50 hoërskoolleerders uit 25 lande byeenkom om hul kennis van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde te verdiep.
Die United Space School word jaarliks deur die Foundation for International Space Education (FISE) by NASA in Houston aangebied. Die program bring talentvolle jongmense tussen die ouderdomme van 16 en 18 jaar van reg oor die wêreld bymekaar om onder leiding van ingenieurs, wetenskaplikes en leiers in die ruimtevaartbedryf ‘n toekomstige bemande sending na Mars te ontwerp.
Elke deelnemende land stuur jaarliks slegs twee leerders wat uitblink in wiskunde en fisiese wetenskappe en ‘n groot belangstelling in ruimtewetenskap toon.
Suid-Afrika se verteenwoordigers vir 2026 is Lila Doyer van Paarl Gimnasium en Jiya Bhoola, ‘n gr.11-
leerder van Steyn City High School in Johannesburg.
As deel van die streng keurings- en voorbereidingsproses moes Lila uitgebreide opdragte voltooi wat wiskunde, fisika, chemie en biologie dek, met spesifieke fokus op die toepassing daarvan in ruimteverkenning.
Volgens Lila het haar belangstelling in wiskunde, medisyne, sielkunde en ruimtereg haar geïnspireer om aansoek te doen.
Tydens die program word die deelnemers in vyf internasionale spanne verdeel wat teen mekaar meeding terwyl hulle verskillende aspekte van ‘n Mars-sending ontwerp.
Die spanne fokus onder meer op ruimtereg en interplanetêre kommunikasie, die ontwerp van ruimtetuie, habitatte op mars, vervoer tussen mars se oppervlak en die wentelbaan, asook wetenskaplike navorsingsdoelwitte.
Om vir die program gekies te word, beskryf Lila as ‘n besondere eer.
“Dit is ongelooflik om die geleentheid te hê om Suid-Afrika op ‘n internasionale platform te verteenwoordig en saam met jongmense van reg oor die wêreld te werk,” sê sy.
Lila is in Engeland gebore en het in 2021 saam met haar gesin van Kaapstad na die Paarl verhuis.
Sy verduidelik dat haar keusevakke fisiese wetenskappe, biologie, wiskunde, drama en geskiedenis insluit.
Hoewel haar akademiese prestasies haar tot by Nasa gaan neem, blink sy ook op die sportveld uit.
As hoofdoel vir haar netbalspan sê sy die sport het haar waardevolle lesse oor deursettingsvermoë en tydsbestuur geleer.
Of sy nou op die netbalbaan is, in die klaskamer presteer of haar drome van ruimteverkenning nastreef, Lila benader elke uitdaging met dieselfde entoesiasme en vasberadenheid.
Lila vertel dat sy by verskeie skoolverwante projekte betrokke is en dat sy geleer het om haar tyd goed te bestuur – en dat dit waarby sy betrokke is vir haar genot bring.
Paarl Gimnasium het reeds ‘n trotse geskiedenis by die United Space School.
Die voormalige leerders Thinus du Toit (2017) en Kianne Lubbe (2018) het die gesogte
Texas Flag Awards vir hul uitstekende prestasies tydens die program ontvang.
Die Flag Awards word jaarliks aan die top-drie studente sowel as die beste presteerders in elke span toegeken.






