Paaie gesluit, nog ontruimings aan die gang ná oorstromings gebied in chaos dompel

Die Askamp informele nedersetting in Roodewal het heeltemaal oorstroom.
Die Askamp informele nedersetting in Roodewal het heeltemaal oorstroom.

Paaie gesluit, nog ontruimings aan die gang ná oorstromings gebied in chaos dompel


WORCESTER – Chaos het gisteraand (11 Mei) laat en vanoggend (12 Mei) vroeg in die Askamp- en Bloedrivier informele nedersettings in Roodewal, Worcester, losgebars toe die Hexrivier wat daarnaby verbyvloei sy walle oorstoom en inwoners se woonstruksture met groot watermassas gevul het.

Paniekbevange inwoners moes inderhaas hul woonstrukture ontruim en by onder meer die nabygeleë Kibbutz gaan skuiling soek.

Water dam plek-plek heuphoogte op

‘n Geskokte Anthea September, ’n inwoner van Askamp, vertel dat die rivierwater vanoggend (12 Mei) “teen ’n spoed” by haar suster – by wie sy gisteraand oorgeslaap – se informele woonstruktuur ingestroom het.

“Vanoggend 03:00 toe stroom die water by die huis in. Dit het vinnig begin styg.”

Volgens September het sy omstreeks 04:00 met groot moeite alleen deur die watermassa wat heuphoogte was gesukkel om hulp te gaan soek vir haar eie kinders asook ander kinders en bejaardes wat in hul informele woonstrukture vasgekeer was.

“Ek het sommer van die mansmense wat op pad was werk toe voorgekeer om te kom help, want die water was vir ons vroue te sterk om die kinders te dra.”

Volgens haar het die mans die vreesbevange kinders op hul rue en nekke getel en hulle deur die watermassa na veiligheid gedra.

Sy vertel dat bejaardes en gestremdes in dromme gelaai moes word om hulle deur die watermassas na veiligheid te neem.

Teen agt-uur vanoggend (12 Mei) was reddingspogings nog aan die gang.

Volgens September is dit hartseer om te sien hoe inwoners se kosbare besittings buite hul woonstrukture op die water ronddryf.

Rita Flando, ’n inwoner van die M-woonstelblok in Roodewal, sê haar woon-eenheid en ander inwoners in hul blok wat ook op die grondvloer woon het vanoggend wakker geword met groot watermassas in hul wonings.

Water stroom in by grondvloer-wooneenhede in die M-blok by Roodewal-woonstelle.

Daar is ook selfoon-videomateriaal wat grootskaalse oorstromings in Hexpark wys.

Gister moes inwoners van die Spokiesdorp informele nedersetting in Rawsonville ook inderhaas hul woonstrukture ontruim toe die watervlakke van die Smalblaarrivier vinnig begin styg het.

Volgens Theo Botha, hoof van die Breedevallei-munisipaliteit (BMV) se brand- en reddingsdienste, is daar inwoners in Roodewal, Zweletemba, Avianpark en Rawsonville wat as gevolg van die gure weersomstandighede inderhaas hul wonings moes ontruim het.

Hy sê hierdie mense is na plekke van veiligheid geneem waar hulle van onder meer van maaltye, matrasse en komberse voorsien word.

“Vandag gaan ons die situasie her-evalueer. “Ons sal ook meer hulpbronne beskikbaar stel om die gemeenskap by te staan.”

LEES OOK: Stormsterkwinde saai verwoesting in Worcester, gure weer duur voort

Erna Victor, ‘n gemeenskapswerker by die Roodewal-woonstelle en Askamp, ‘n aangrensende informele nedersetting, sê dat daar ‘n groot behoefte aan kos, komberse en warm en droë klere is, berig Ronél van Jaarsveld. Victor het vanoggend basiese voorraad soontoe geneem en groepe kinders het gehelp om dit aan te dra. Skole in die Kaapse Wynland-distrik is Maandag en Dinsdag gesluit.

‘n Erf in Hexpark, Worcester.


Inwoners wat wil help kan nie-bederfbare kos, komberse en warm klere aflaai by
Jacobus Burgerstraat 22 in Meiringspark.

BVM doen ’n dringende beroep op inwoners, sake-ondernemings, geloofsgebaserde-organisasies en gemeenskaps-belanghebbendes om kwesbare en ontheemde families by te staan wat tans in verskeie gemeenskapsale regoor die Breedevallei geakkommodeer word.

Hoofpaaie gesluit

Intussen is alle hoofpaaie in en uit Worcester gesluit vir verkeer.

Die N1 by Worcester is tot verdere kennisgewing gesluit, saam met verskeie passe langs die steilrand, wat toegang na en van Kaapstad ernstig beïnvloed. Die Du Toitskloof-pas, N1 Huguenot-tonnel, Bainskloofpas en die N1 Du Kloof Lodge-area is gesluit weens puin en vloedskade.

Oorstromings by Sandhills/De Wet Kelder het die N1 in beide rigtings gesluit vanaf Touws-rivier tot Worcester en vanaf Worcester tot by die R318 (Montagu-roete).

Die R43-afrit na Ceres is ook gesluit weens oorstromings, bome oor die pad en vier vragmotors wat verwyder moet word.

Die Langeberg-munisipaliteit het gewaarsku dat ‘n groot vloed op pad is in die Breederivier, met meterlesings wat daarop dui dat die watervlak wat oor die volgende paar uur sal afvloei, hoër sal wees as die vloedlyn van 2024. Die McGregor-brug asook die Bonnievale Rooi-brug kan moontlik oorvloed en toegemaak word.

Alternatiewe roetes:

  • N2 vanaf Worcester → R43 → Villiersdorp → R321 → Grabouw.
  • Gaan voort op R43 na Caledon → N2 na Kaapstad.
  • Mitchells-pas: Stop-en-gaan in plek.
  • Nuwekloofpas bly oop (nie vanaf Ceres-kant nie).
  • Victoria-Wes → Calvinia → Van Rhynsdorp → N7 (aanbevole veilige roete).
  • Indien reeds verby Victoria-Wes (voor Drie Susters): Roete via Murraysburg/Xamdeboo na N2 George. Slegs ligte motorvoertuie (slaggate op N9). Motoriste moet met uiterste versigtigheid voortgaan.

Die Wes-Kaapse Regering beveel sterk aan dat enigiemand wat tans die N1 na Kaapstad gebruik ‘n veilige plek vind om te stop en te slaap, totdat ‘n meer direkte roete oopmaak.

LEES OOK: Stormsterkwinde saai verwoesting in Worcester, gure weer duur voort

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article