Sy vertel nog al te lekker stories uit vergange dae en geniet ‘n sopie whisky op sy tyd.
Ouma Phoebe Hewett (née Saayman) het op 12 Maart haar 100ste verjaardag gevier.
Haar twee kinders, Lesley Barnard (68) en Arthur (65), en hul familie het haar lekker bederf met partytjies vir dié groot dag.

Ouma Phoebe het grootgeword in Komga (deesdae Qumrha), sowat 64km buite Oos-Londen. Sy het in die hoërskool na die koshuis gegaan, waar sy matriek aan die Hoërskool Grens voltooi het. Ná matriek het sy in die bank gewerk. Sy onthou nog allerlei van haar grootwordjare.
“Ons was lekker stout. Die huise in Komga was op die straat gebou, en ons kinders het skelmpies aan die vensters gaan klop. As die mense dan met flitse kom kyk wie klop, het ons onder die venster sit en giggel,” vertel sy met ‘n glimlag.
Sy het haar man van 63 jaar, Neville Hewett, in Kaapstad langs die strand ontmoet. Hulle is in 1955 getroud.

Die egpaar het in 1963 na Bloemfontein verhuis, waar hulle lank in Dan Pienaar gewoon het.
Vroeër jare was Ouma Phoebe ‘n eiendomsagent.
Sy meen dit is sport wat haar so lank jonk gehou het. Sy het hokkie en tennis gespeel en graag in hul swembad geswem. Sy het nog tot op die ouderdom van 82 gereeld tennis gespeel.

Ná hul aftrede het die egpaar in 2015 na Westerbloem verhuis, voordat Neville in 2018 oorlede is.
Sy het in 2024 haar intrek by Ons Tuiste geneem.
Al pla die gehoor dat sy lekker gesels, is Ouma Phoebe nog heel gesond en loop met die hulp van ‘n loopraam waar sy wil wees.
Ouma Phoebe kyk nog graag sport op televisie.
“Ek geniet die krieket, rugby en veral die tennis.”
Haar raad aan jongmense is dat ‘n mens ‘n dankbare lewe moet lei.
Leane Barnard (10), een van Ouma Phoebe se twee agterkleinkinders, sê ouma-grootjie bederf haar baie. Sy sê dit is lekker om ‘n ouma-grootjie te hê wat so oud is.



You must be logged in to post a comment.